News

Ervare Midvaal-brandweerman gekies vir SADC Noodreaksie-span

Met meer as 34 jaar ervaring in nooddienste en internasionale ontplooiings, bring Morné Mommsen ‘n unieke kundigheid na die SADC Noodreaksie-span.

MIDVAAL – Morné Mommsen, opleidingsbeampte by Midvaal-brandweer, is een van slegs twee Suid-Afrikaners wat gekies is om deel te wees van die Suidelike Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) Noodreaksie-span (ERT). Sy nominasie deur die munisipaliteit is formeel goedgekeur deur die Nasionale Rampbestuursentrum (NDMC).

Mommsen sal dien in die Soek- en Reddingsafdeling van die ERT en bring meer as 34 jaar ervaring in Nooddienste na die span. Hy het internasionale ontplooiings as soek- en reddingspesialis onderneem en is die skrywer van Suid-Afrika se eerste Honde Soek- en Reddingshandboek. Hy het ook as kundige by die QCTO-kurrikulumontwikkelingsplatform gedien en sy navorsing by nasionale en internasionale konferensies aangebied.

Sy kwalifikasies sluit rampbestuur, tegniese redding, brandbestryding, noodmediese reaksie en K9-soekoperasies in. Mommsen volg tans sy meestersgraad in Omgewingswetenskap met ‘n fokus op rampbestuur.

Hy sal die SADC ERT-induksieopleiding bywoon van 25 Augustus tot 5 September 2025 in Nyanga-provinsie, Zimbabwe. Na voltooiing sal hy formeel ingesweer word en beskikbaar wees vir ontplooiings in enige SADC-lidstaat tydens rampspoed.

Raadslid Chantal Gomes, lid van die Burgemeesterskomitee vir Publieke Veiligheid, het Mommsen geluk gewen en gesê: “Sy seleksie is die direkte gevolg van dekades van toegewyde diens, tegniese kundigheid en leierskap in lewensreddende operasies. Ons is uiters trots op hom en vertrou dat hy Midvaal en Suid-Afrika met onderskeiding sal verteenwoordig.”

Midvaal het in ‘n verklaring Mommsen voorspoed toegewens met sy opleiding en toekomstige ontplooiings.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button