Heidi bring ‘Aanhou’ Vaal toe – ‘n ode aan liefde en uithouvermoë
Met elke noot vertel Heidi ’n storie van vashou en nooit-los-nie.
VANDERBIJLPARK – Met haar hart op haar mou en ‘n stem wat eerlikheid uitasem, het die Vrystaatse sangeres, Heidi onlangs die Vaaldriehoek besoek as deel van haar promosietoer vir haar nuutste enkelsnit, Aanhou.
Die 30-jarige kunstenaar, wat deesdae voltyds sing ná jare van balans tussen ‘n voltydse werk en haar musiekloopbaan, het by Gas Monkey by Emerald Casino gesels oor haar reis, haar inspirasie en hoekom die mense van die Vaal vir haar soos familie voel.
“Ek tree gereeld hier op. Die mense in die Vaal ondersteun my al vandat ek in 2016 begin het, hulle is letterlik naby aan my hart,” vertel sy.
Aanhou, wat onlangs deur die David Gresham Record Company vrygestel is, is ‘n eerlike, diep emosionele lied wat geïnspireer is deur haar eie huwelik.
“My man is my inspirasie. Hy het my belowe hy sal my nooit los nie. Dis daardie tipe liefde waarvoor jy bly veg,” verduidelik sy.
Heidi, wat oorspronklik van Zastron in die Vrystaat af kom en haar vormingsjare in Bloemfontein deurgebring het, het nie ‘n maklike pad geloop nie.
As kind moes sy met egskeiding, skeptisisme en afwysing leef. Maar haar geloof, familie en liefde vir musiek het haar gedra.
Vandag is sy nie net ‘n kunstenaar nie, maar ook ‘n ma van twee seuntjies en grimeerkunstenaar.
Met haar opregtheid, relatiewe musiekstyl en egte stories, verbind Heidi met gehore in elke dorp waar sy sing, veral in die Vaal.
Volg HeidiSA op sosiale media om op hoogte te bly van waar sy optree.
