Vliegtuig van Vereeniging voer noodlanding by George uit
Die vliegtuig het vroeër in Vereeniging opgestyg.

GEORGE – ’n Rockwell 500S-vliegtuig met registrasie ZS-IZN, wat van Vereeniging-lughawe vertrek het, het Saterdagoggend naby George-lughawe ‘n noodlanding uitgevoer.
Volgens die burgerlugvaartowerheid het die dubbelenjin vliegtuig sowat 15 km van die lughawe ’n fout ondervind en in ’n nabygeleë begraafplaas naby Thembalethu neergestort.
Aan boord was twee persone – die vlieënier en ’n passasier. Albei is vinnig na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling, en hul toestand word tans gemonitor.
Die Ongeluk- en Voorvalondersoekingsafdeling (AIID) bevestig dat die ondersoek aan die gang is.
‘n Voorlopige verslag oor die ongeluk sal binne 30 dae op die SACAA-webwerf beskikbaar wees. Inwoners word gewaarsku om die begraafplaasarea te vermy totdat die ondersoek voltooi is.
