Plaaslike bierbrouer verower derde plek by gesogte kompetisie
Hy brou skaars langer as ‘n jaar, en Danie Jansen se tuisbrousel het reeds ’n medalje by ’n nasionale kompetisie losgeslaan.
* Hierdie storie het eerste in die gedrukte uitgawe van Vaalweekblad (22 – 28 Augustus) verskyn.
MIDVAAL – Danie Jansen, ’n lid van die Henley Hoppers Home Brewers, het onlangs ’n merkwaardige prestasie behaal deur derde plek by die 2025 Durban Ales for Tails-kompetisie te behaal met sy bier genaamd Grumpy Bean Porter.
Uit 92 inskrywings het Danie se brousel uitgestaan — en dit is maar die tweede kompetisie waaraan hy deelneem.
Wat selfs meer indrukwekkend is, is dat Danie nog net vir bykans ‘n jaar bier brou.
Hy het in April verlede jaar begin.
Die jaarlikse fees, wat sedert 2016 in KwaZulu-Natal plaasvind, kombineer ambagsbrou, lewendige vermaak en gesinsvriendelike aktiwiteite om fondse vir plaaslike diereskuilings in te samel.
By die kompetisie, wat in Augustus by die Shongweni Club aangebied is, kon bierbrouers van regoor Suid-Afrika hul unieke biere aan die publiek voorsit.
Gaste het die geleentheid gehad om die brousels te proe en vir hul gunstelinge te stem.
Die top drie finaliste het pryse, insluitend brou-toerusting ontvang.
Danie se inskrywing het die beoordelaars beïndruk, en sy derde plek is ’n bewys van sy talent en toewyding tot ambagsbrou.
Die Henley Hoppers, ’n lewendige gemeenskap van bierliefhebbers en tuisbrouers wat gereeld by Swagga Breweries byeenkom, het hul trots en bewondering uitgespreek vir Danie se prestasie en sien uit na sy toekomstige brouprojekte.
Die 2025-geleentheid (2025 Durban Ales for Tails-kompetisie )het 12 diere-welsynsorganisasies ondersteun, insluitend KZN Valley Dogs, Coastal Horse Care en The Feline Connection. Fondse van die fees help met reddingsoperasies, sterilisasieprogramme en rehabilitasie van diere in nood.
