VANDERBIJLPARK – Die Vaaldriehoek spog met ’n nuwe marathon-kampioen.
Karin-Mari Dötze, ‘n graad drie onderwyseres aan die Laerskool Emfulenipark, het op 14 September die Rand Water Vaal River City Marathon oor 42.2km gewen en daarmee haarself as een van die streek se top langafstandatlete gevestig.
Met haar debuut in die klassieke afstand het sy die wenstreep in ’n indrukwekkende 3:02:06 oorgesteek, heelwat vinniger as die 3:10:00 waarna sy gestreef het. “Dit is ’n gevoel wat ek eintlik sukkel om te beskryf.
Elke keer as ek video’s sien, of dele van die roete ry, raak ek nog steeds emosioneel. Dit is regtig ’n groot mylpaal vir my gewees.
Ek het ‘n tyd in my kop gehad. Voor die skoot geklap het, toe dink ek by myself dis jou eerste een maak net klaar,” vertel sy emosioneel. Die pad na oorwinning was egter nie sonder uitdagings nie. Sy beskryf die laaste 3km as “brutal” en vertel hoe sy by Plato Koffie verby is en die voorste vroueatleet van Nedbank voor haar gesien het.
“Daar was ‘n warboel van emosies. Gaan ek haar inhaal of gaan ek settle vir tweede. Ek dink die antwoord is redelik duidelik waarop ek besluit het, haha. Toe ek verby haar is, het ek vir myself gesê: ‘Dit is nou of nooit. Jy werk nou hard tot die einde. Opgee is nie ’n opsie nie’.”
Vir Dötze was dit egter nie net ’n fisieke geveg nie. “Elke keer as ek my familie gesien het, het ek trane gesluk en gesê: ‘Karin-Mari, jou bors gaan toe trek. Jy kan aan die einde huil.’ Dit was fisies onmoontlik om op te gee,” bieg sy.
Sy skryf baie van haar sukses toe aan haar afrigter, Stefan Blunden, wat versigtig met haar program gewerk het nadat sy in 2023 ’n besering opgedoen het. “Gelukkig het hy al die dinkwerk gedoen. Ek moes net doen wat hy beplan het.
Sy woorde het tydens die marathon oor en oor in my kop afgespeel. Hy het regtig alles haarfyn beplan.” Haar loopbaan as atleet het reeds in graad twee begin, maar was met duwweltjies en onderbrekings besaai.
’n Kniebesering, swangerskap en die Covid-pandemie het haar tydelik van die pad weerhou. Vandag is sy trots daarop dat sy die skeptici en Ongelowige Thomasse verkeerd bewys het. “As jy eers ’n kind gehad het sal jy nooit weer so goed hardloop nie, het mense gesê.
“Askiesie nè, ek hardloop nou beter as ooit. Dit is vir my lekker om te kan wys, dat al is jy ‘n mamma en werkende vrou kan jy nog steeds jou passie uitleef en iets vir jouself doen.
Mammas dink hulle moet half hul menswees opgee as hulle ‘n mamma word. Dit is glad nie so nie,” skerts sy. Sy balanseer haar sportloopbaan met ’n veeleisende beroep en gesinslewe.
Tog is sy dankbaar dat haar dogtertjie, Ella-Maé, elke keer trots vra of mamma gewen het. “Dit is vir my die lekkerste om te weet as ek my passie uitleef, wag sy met ’n glimlag en soek my medalje.” Met planne om in 2026 die Comrades aan te durf, glo sy haar reis het nog net begin.
“If you believe it, you can achieve it. Stay humble altyd. Jy is net so goed soos jou laaste wen.” Maar Karin-Mari weet waar alles vandaankom. “Dit klink soos ‘n cliché om te sê: ‘Alle eer aan God’ dit is nie… dit is werklik so. Ek praat met die Here vandat die skoot klap tot ek klaar is.”
