VEREENIGING – Die standbeeld van wyle president Paul Kruger het Maandag ‘n draai in Vereeniging gemaak as deel van sy simboliese reis na Orania, waar dit op 10 Oktober – Kruger se 200ste geboortedag – onthul sal word.
Die beeld, ’n 1,5 ton replika van die oorspronklike standbeeld op Kerkplein in Pretoria, is geskep deur beeldhouer Jacques Müller. Dit is in opdrag van die Orania Beweging vervaardig met die doel om Afrikaner-erfenis te bewaar.

In Vereeniging het die konvooi stilgehou by twee historiese terreine: die terrein waar die Vrede van Vereeniging in 1902 onderteken is, en daarna by die Vryheidsmonument in Vereeniging se middestad, waar mense dit kon besigtig.
Die oorspronklike standbeeld op Kerkplein – ontwerp deur Anton van Wouw – bly op sy plek in Pretoria.
Die replika wat nou na Orania verskuif word, is deel van ’n groter projek om kulturele monumente op alternatiewe plekke te herdenk waar hulle in veilige omgewings bewaar kan word.
Die standbeeld sal ook ander plekke – soos die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys – en verskeie historiese landmerke besoek, voor sy aankoms in Orania later die week.

