News

Beoogde myn naby Vaaldam wek kommer

Grondeienaars en raadslede meen die mynprojek naby Deneysville kan die omgewing en waterbronne bedreig.

MIDVAAL — ’n Nuwe aansoek om ’n prospekteringsreg op die plase Vischgat 467 en Zoekfontein 468 naby Deneysville het die aandag van grondeienaars en raadlede getrek.

Die aansoek is ingedien deur Mollo Business Consultants (Edms) Bpk, wat beoog om vir steenkool, goud, nikkel, lood, uraan, platinumgroepmetale en sand te prospekteer.

Die voorgestelde gebied, wat sowat 5 745 hektaar beslaan, lê blykbaar binne die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en Sedibeng Distriksmunisipaliteit.

Die gebied naby die Vaaldam waar ‘n mynmaatskappy wil prospekteer.

Volgens dokumente van Beyond Green Environmental Services (BGES), wat as die omgewingskonsultant optree, sal die projek in fases geskied oor ’n tydperk van twee tot drie jaar.

Dit sal oppervlaktoetse, geologiese opnames en boorwerk insluit.

Die terrein is sowat vyf kilometer noord van Deneysville en naby die Panfontein Colliery — ’n omstrede mynprojek wat reeds sterk teenkanting uitgelok het ná besware deur grondeienaars, Rand Water, Sasol en gemeenskappe langs die Vaalrivier.

Dalene Venter, raadslid vir Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê sy het eers onlangs van die nuwe projek gehoor. Sy waarsku dat die beoogde plan ernstige vrae laat ontstaan oor die beskerming van waterbronne en die plaaslike omgewing, en beklemtoon dat behoorlike konsultasie met inwoners noodsaaklik is voordat sulke mynbouplanne goedgekeur kan word.

Inwoners is bang vir die impak wat ‘n myn so naby aan die Vaaldam op waterbronne sal hê. Foto: Vaalweekblad Argief

’n Biodiversiteitsverslag deur BGES, wat in September 2025 uitgereik is, dui aan dat groot dele van die plase binne kritieke biodiversiteitsgebiede val, met vleilande en faunahabitatte langs die Vaalrivierstelsel. ‘

Die verslag waarsku dat prospektering die plaaslike ekosisteem kan ontwrig, tensy streng versagtingsmaatreëls toegepas word.

Die openbaredeelnametydperk het op 17 September 2025 begin en sal 30 dae duur.

’n Publieke vergadering om die projek te bespreek is vir 17 Oktober 2025 beplan, wat beteken dat inwoners en grondeienaars nie veel tyd het om kommentaar betyds in te dien nie.

Belanghebbendes en inwoners kan steeds registreer as I&AP’s (Belanghebbendes en Geraaktes) of kommentaar lewer by Beyond Green Environmental Services by info@beyondges.co.za of 012 003 6593.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button