Verdagtes vas oor beweerde ontvoering en poging tot moord
’n Man is glo voor omstanders aangerand en met geweld in ’n voertuig gelaai.
*Die berig het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (17 Oktober) verskyn.
VEREENIGING — Vier verdagtes is op 13 Oktober in hegtenis geneem ná ’n beweerde ontvoering en aanranding.
Die inhegtenisnames volg ná ’n gesamentlike operasie tussen Sekuriteit Sonder Grense (SSG) se hoërisikoeenheid en die Vereenigingpolisiestasie.
Volgens inligting is die groep ontbied nadat ’n lid van die publiek gesien het hoe ’n man aangerand en met geweld in ’n voertuig gelaai is.
Die voertuig, ’n wit Volkswagen Polo, het van die toneel weggery.
’n Kort rukkie later is die slagoffer in die Spider Valley-omgewing, naby Mario Milaniweg, aangetref.
Die man is lewendig, maar in ’n toestand van skok, aangetref. Volgens SSG het die verdagtes hom ontklee.
Ooggetuies het vermoedelik ingegryp en die man gehelp voordat nooddienste opgedaag het.
Toe lede van SSG en die polisie op die toneel aankom, is die verdagtes, drie mans en een vrou, kort daarna vasgetrek.
In hul besit is ’n staalpyp gevind wat glo tydens die aanval gebruik is.
Die polisie het bevestig dat die slagoffer aanvanklik ’n verklaring afgelê het, maar later besluit het om nie formeel klagtes te lê nie.
