News

Duncanville sonder krag vir drie weke – kinderhuis en hulpsentrum swaar getref

Drie weke sonder krag – nou sit selfs die kinderhuis en hulpsentrum in die donker.

VEREENIGING – Dele van Duncanville is al byna drie weke sonder elektrisiteit – ’n situasie wat groot ontwrigting veroorsaak en selfs welsynsinstellings tot stilstand bring.

Volgens die gemeenskapsaktivis Nelmarie Ruysch het die krag in middel Oktober afgegaan en is dit nog nie herstel nie, al was Emfuleni se tegnici verskeie kere op die toneel.

Die kragonderbreking raak nie net inwoners nie, maar ook noodsaaklike dienste soos LifeLine Vaal en die Sedibeng Children’s Haven, wat albei afhanklik is van elektrisiteit om hul werk te doen.

Tina Grobbelaar, bestuurder van Sedibeng Children’s Haven, sê die sentrum sit sedert 19 Oktober sonder krag. “Ons kook nou potte water om 13 kinders se baddens aan te maak. Die gate wat hulle oopgrawe en ooplos, is gevaarlik – ’n kind kan maklik daarin val,” vertel sy. Die kinderhuis, wat kinders tussen 3 en 13 versorg, gebruik beperkte sonkrag en steun op hulp uit die gemeenskap.

By LifeLine Vaal beskryf sentrum- en finansiële bestuurder Shirley Hughes die situasie as ’n “regte stryd”. “Ons WiFi, telefone en yskaste werk nie. Ons kan nie verslae stuur of oproepe ontvang nie. Ons hande is afgekap,” sê sy.

Emfuleni het Donderdag bevestig dat ’n 20 MVA-transformator by die Duncanville-substasie afgeskakel is “om verdere skade te voorkom”. Geen tyd vir herstel is nog gegee nie.

Teen Donderdagmiddag was Arcon Park, Duncanville en dele van Unitaspark sonder krag. “Nou is almal se krag af,” sê Ruysch. “Die ouetehuis, die kinderhuis, LifeLine – almal sit sonder krag.”

*Emfuleni het teen druktyd nog nie op Vaalweekblad se spesifieke navrae gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button