MEYERTON – Gemaksones het al vele bokskampioene se loopbane laat ontspoor, maar iemand wat nie slaap daaroor gaan verloor nie, is DonJuan ‘Iron Dragon’ van Heerden.
Die gebore en getoë Vaaldriehoeker is verslaaf aan vordering en groei.
Op 29 November by Emperors Palace gaan die atmosfeer tasbaar wees wanneer hy deur die toue klim om te veg teen die Suid-Afrikaanse middelgewigkampioen, Phukelelani Khumalo. Vir van Heerden is dit nie net ‘n boksgeveg nie. Hy wil ‘n stelling maak.
Met die Suid-Afrikaanse én ABU-middelgewigtitels op die spel hoef sy afrigter nie te sukkel om hom te motiveer nie.
“My voorbereiding was intens, presies soos dit moet wees vir ’n aand soos daai,” sê hy kalm en vasberade. “Elke druppel sweet het ’n doel. Ek voel gefokus en honger. Hierdie is nie net nóg ’n geveg nie dis ’n verklaring.
Twee titels, een kampioen en ek weet reeds wie dit gaan wees.” Van Heerden beskryf sy jongste kamp as die beste van sy loopbaan. “Ek het my liggaam en verstand tot uiterstes gedruk.

Alles is geslyp, van my reaksies tot my asemhaling.” Hy het sy voorbereiding in afsondering gedoen, ver van afleidings en “geraas.” “My span bestaan uit mense wat my druk tot ek breek en my dan nog ’n bietjie verder druk.
Dis hoekom ek altyd beter terugkom as voorheen.” Oor sy teenstander praat hy met respek, maar sonder vrees. “Hy is ‘n bedrewe bokser, ek gee hom dit.
Hy is sterk, maar voorspelbaar. Hy het ’n paar goeie oomblikke gehad, maar ek is die tipe vegter wat jou laat betaal vir elke fout. En Khumalo maak foute. Baie van hulle,” skerts hy.
Volgens Van Heerden is hy gemaklik met enige styl. “As hy wil dans, sal ek lei. As hy wil baklei, sal ek slaan. Dis my kryt. Hy’s net daar om die les te leer.” Vir Van Heerden is hierdie geveg groter as net ’n titelgeveg.
“Dis geskiedenis wat ek skryf. Party vegters soek hul kans, ek maak my eie kanse. God het my gebless. Om twee titels op een aand te veg wys net een ding. Ek is gebou vir groot oomblikke.
Ek is verslaaf aan groei, aan beter wees as gister. Ek veg teen die man in die spieël, nie teen my teenstander nie.” Vir hom is daar geen twyfel oor die uitslag van die geveg nie. “Dis nie ’n as nie, dis ’n wanneer ek wen,” sê hy met ’n glimlag.
“Hierdie wen gaan die wêreld se aandag trek. Ek weet ek hoort nie net op hierdie vlak nie. Ek hoort bo dit.” Van Heerden se visier is egter verder as 29 November ingestel. “My doel is eenvoudig.
Ek wil my naam in dieselfde asem hoor as die grootstes. Ek mik nie net vir titels nie. Ek is nie hier om net deel te wees van boks nie. Ek is hier om dit te verander.”
Hy sluit af met ‘n boodskap aan sy ondersteuners en Khumalo.
“Elke keer as ek instap, dra ek julle energie saam met my. Julle is deel van die storie. Die beste manier om dankie te sê, is om te wen en ek gaan wen. Khumalo, bring jou beste!”
