Kuberbedrieërs kaap glo Emfuleni-speaker se WhatsApp-nommer
’n Skynbaar vriendelike “goeie more” het vinnig verander in ’n poging om duisende rande uit mense te kry.
VANDERBIJLPARK — Die Speaker van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, die Eerbare Sibonile Soxuza, se amptelike WhatsApp-nommer is glo deur kuberbedrieërs oorgeneem en word nou gebruik om geld by inwoners te bedel.
’n Vaalweekblad-joernalis het Donderdagoggend self ’n boodskap ontvang van die speaker se nommer, waarin die persoon homself/haarself voorgedoen het as Soxuza en gevra het om R3 000 te leen via eWallet of CashSend.
Teen druktyd het die munisipaliteit nog nie bevestig of ontken of die nommer wel gekaap is nie. Vaalweekblad het ’n navrae aan die munisipale woordvoerder Mahosonke Sangweni gestuur. Ons wag nog vir terugvoer.
‘n Raadslid van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het aan Vaalweekblad gesê: “Ons het as raadslede almal ’n boodskap gekry dat ons moet kennis neem – haar nommer is gehack. Ons moenie die nommer kry nie.”
Inwoners word aangeraai om versigtig te wees vir enige verdagte boodskappe wat voorgee om van die Speaker afkomstig te wees, en om geen persoonlike inligting te deel of geld oor te betaal nie.
Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Vaalweekblad sal lesers op hoogte hou soos meer inligting beskikbaar word.

