News

Tronkstraf na man vrou wreed verbrand

’n Man wat sy lewensmaat met petrol oorgooi en aan die brand gesteek het, is verlede week in die Vereeniging-streekhof gevonnis.

OPDATERING 2025/11/24 – 09:10

In ’n vroeëre weergawe van ons berig oor die moordsaak van Linell (Chanelle) du Toit is die rolle van die betrokke partye verkeerd aangedui. Mnr. Nico van der Berg was die streeklanddros wat die vonnis opgelê het, terwyl mnr. Morton die prokureur in die saak was.

Ons erken die fout en bied ons opregte verskoning aan vir enige verwarring wat dit kon veroorsaak.


VEREENIGING — Die streekhof het op 11 November uitspraak gelewer in die opspraakwekkende moordsaak van Linell (Chanelle) du Toit wat in Oktober 2024 deur haar lewensmaat, Pieter Stephanus (Stephan) van Staden, met petrol gegooi en aan die brand gesteek is.

 

Van Staden is verlede week skuldig bevind aan moord en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, nadat hy ’n volledige Artikel 220-erkenningsverklaring aan die hof voorgelê het.

Hy het hierdie vonnis as deel van ’n soort pleitooreenkoms met die staat aanvaar, wat daartoe gelei het dat die ander aanklagte teen hom nie voortgesit is nie.

Stephan van Staden in die beskuldigdebank in die streekhof in Vereeniging. Foto: Christiaan Cloete

By sy eerste hofverskyning verlede jaar het Van Staden met verbande om sy bene in die beskuldigdebank ingeskuif. Dit het brandwonde, wat hy tydens die voorval opgedoen het, bedek.

Van Staden het aanvanklik onskuldig gepleit toe hy op 28 Oktober in die hof verskyn het.

Linelle du Toit in die Sebokeng-hospitaal nadat sy met petrol gegooi en aan die brand gesteek is.

In sy verklaring erken hy egter dat hy en Du Toit op 26 Oktober 2024 gestry het terwyl hulle albei onder die invloed van dwelms was.

 

Tydens die argument het hy petrol oor haar gegooi by die woonstel wat hulle in Uniestraat in Vereeniging se middestad gedeel het, en haar aan die brand gesteek.

Du Toit het sowat 80% van haar liggaam ernstige brandwonde opgedoen, insluitend haar gesig, arms, buik en bene, en het twee dae later in die Sebokeng-hospitaal beswyk.

Linelle du Toit.

In ’n video wat sy voor haar dood op sosiale media gedeel het, het sy aan die wêreld vertel dat Van Staden haar aan die brand gesteek het.

“Ek het voorsien dat die brand kan lei tot die oorledene se dood,” het Van Staden in sy verklaring geskryf.

Linell du Toit voor sy deur die vlamme vermink is.

Hy het verder erken dat hy “regstegnies geen verweer het nie.”

Staatsaanklaer Reuben Chabalala het die asaak vir die staat behartig, terwyl adv. Riaan Morton vir Van Staden opgetree het. Streeklanddros Nico van der Berg het die uitspraak gelewer.

Stephan van Staden in die hospitaal na die brandvoorval.

2023-geweldsaak ook finaal afgehandel

 Op dieselfde dag het die hof ’n ouer dossier teen Van Staden uit 2023 finaal afgehandel. Alhoewel die sake nie amptelik saamgevoeg is nie, is hulle voor dieselfde streeklanddros afgehandel. Die 2023-saak het ’n reeks ernstige aanklagte ingesluit, insluitend:

*roof met verswarende omstandighede (12 Februarie 2023)

*aanranding met die opset om ernstig te beseer deur petrol op nog ‘n vrou, Chantelee de Lange, te gooi

*mishandeling en marteling van ’n dier

*gooi van petrol op ’n hond

*gooi van ’n hond teen ’n muur (Augustus 2023)

Volgens die staat is hierdie aanklagte egter nie verder gevoer nie ná die ooreenkoms waarin Van Staden se skuldigbevinding en 15-jaar vonnis vir moord gefinaliseer is.

Patroon van geweld

Hofdokumente wys dat Van Staden sedert 2011 verskeie vorige veroordelings het, meestal vir dwelmoortredings en die dwarsboming van polisiebeamptes.

Die finale afhandeling van beide die 2024-moordsaak en die 2023-geweldsaak op dieselfde dag skets ’n duidelike patroon van toenemende geweld wat oor jare opgebou het en uiteindelik op die spits gedryf is tydens die laaste voorval.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button