Nuwe glimlag en nuwe lied gee nuwe hoop
Met ’n nuwe glimlag en ’n lied van hoop, kan Michael weer sy musiekdrome volg en ander inspireer om in hul eie ‘stories van môre’ te glo.
MEYERTON – Die toekoms het bleek gelyk vir die 38-jarige plaaslike sanger Michael Ray Clark.
’n Probleem met sy voortande het hom nie net sy glimlag gekos nie, maar ook sy selfvertroue, werk en uiteindelik sy hoop.

Toe hy moedeloos op sosiale media deel dat hy opgegee het, het dit die aandag getrek van ’n groep wat in hoop en harmonie glo.
The Hope and Harmony Group (THHG), onder leiding van Sonet en Tommy Shields, het besluit om Michael se storie te verander.

Die groep, wat liedjies vir plaaslike én internasionale kunstenaars skryf, spesialiseer in oorspronklike musiek, persoonlike komposisies en inspirerende projekte wat mense aanraak.
Hulle het spesiaal vir Michael ’n lied geskryf getiteld Die Stories van Môre.
Die lied dra ’n boodskap van geloof, herstel en tweede kanse — en is geskep om Michael te herinner dat sy waarde meer is as ’n glimlag alleen.
“Ons wou vir Michael wys dat sy storie belangrik is,” sê Sonet.
“Ons het nie ’n towerstaf nie, maar ons het liedjies, en soms is ’n lied genoeg om ’n lewe te verander.”
Met die ondersteuning van THHG het Michael onlangs sy tande laat herstel.
“Midvaal Dental, onder leiding van Dr Joani, het al Michael se herstelwerk heeltemal gratis gedoen — van die ondertande tot ’n splinternuwe bostel,” sê sy Sonet. “Baie dankie aan Midvaal Tandheelkundige Praktyk, Dr Joani, en hul laboratorium in Brakpan (Brakpan Dental).”
Nou kan hy weer vol selfvertroue sy musiekdroom najaag. Sy verhaal het reeds ander geïnspireer om ook in hul eie “stories van môre” te glo.

“Ons almal dra littekens en drome,” sê Sonet.
“As ons mekaar kan help eerder as oordeel, kan ons saam ’n land vol hoop bou.
”En so begin Michael se sprokie – nie met “hulle het lank en gelukkig geleef” nie, maar met ’n nuwe glimlag en ’n lied van hoop.
