‘n Nuwe tuiste vir Huis Belinda
Elkeen van die kinders in Huis Belinda se gesiggies vertel van die liefde en deernis wat hulle ontvang.
VANDERBIJLPARK – Die lig aan die einde van die donker 2025-tonnel…’n nuwe tuiste vir Huis Belinda. Na ‘n jaar van onophoudelike gebed, soek en vertrou, het Huis Belinda uiteindelik aan die begin van die maand in hulle nuwe huis ingetrek. ‘n Huis waar die ses pleegkinders waarna Mev. Belinda Venter omsien sorgloos kan speel en baljaar, ‘n tuiste waar hulle nie net fisies veilig is nie, maar ook emosioneel en geestelik kan groei.
Mev. Venter is al ‘n pleegmamma vir 21 jaar en verskeie verwerpte en mishandelde kinders is al deur haar liefde en sorg aangeraak en grootgemaak.
Sy sê die blomme in haar tuin is ’n simbool van wat elke kind in haar sorg behoort te word – om nie net in skoonheid te blom nie, maar ook met waardigheid te leef in ’n samelewing waar hul kosbare en unieke geur mense se harte aanraak.
Mev. Venter word volgende jaar 70, maar haar gees is nog bloedjonk en huiwer sy nie om saam met haar kinders sommer in die reën bal te speel nie.
“Wat ek doen is nie vir myself nie, ek doen wat die Vader van my vra. Terwyl ek nog Sy hande en voete kan wees en na hierdie lyfies kan kyk kan ek net die Here dank dat ek op my ouderdom dit nog kan doen. Party dae is dit moeilik, maar wanneer hierdie lyfies vir my glimlag dan kry ek die krag om aan te gaan.”
Daar is tans vier dogters en twee seuns in haar sorg, en elkeen se gesig vertel van die liefde en deernis wat hulle by hulle “mamma” ontvang.
Huis Belinda maak grootliks staat op eksterne fondse en donasies. Om hierdie skuif na hulle nuwe tuiste suksevol te behou, en om maandeliks basiese behoeftes soos huur, krag en water te dek, benodig Huis Belinda donasies en borge wat bereid is om by te dra tot hierdie veilige hawe. Deur ‘n borg te word, maak jy nie net ‘n finansiële verskil vir Huis Belinda nie, maar dra jy direk by tot die veiligheid en sekuriteit van weerlose kinders. ‘n SARS Artikel 18A-sertifikaat kan voorsien word vir alle donasies, wat dit dan ook ‘n belastingvoordeel maak.
Indien dit op jou hart druk om ‘n borg te word of selfs net donasies te gee, skakel gerus vir Belinda by 082 667 6704.
