VIDEO: 14 melkbeeste dood ná brutale aanval
Boere van die Bloemendal-omgewing tussen Vereeniging en Heidelberg is geskok oor die wreedheid van die nuutste aanval.
***WAARSKUWING: Die storie bevat grafiese beeldmateriaal wat sensitiewe lesers kan ontstel.***
HENLEY ON KLIP – ’n Uiterse wrede voorval van veediefstal het ’n melkboerdery in die Bloemendal-omgewing tussen Vereeniging en Heidelberg geruk nadat veediewe 17 melkbeeste aangeval is.
Kyk video hier.
Veertien van die beeste is dood.
Die aanval het in die nag van 10 Desember plaasgevind op ’n melkboerdery langs die R42 tussen Meyerton en Heidelberg.

Volgens die eienaar, Heinrich van Wyk, is die aanval Donderdagoggend ontdek toe ’n werker vroegoggend na die stal gegaan het en opgemerk het dat die beeste weg is.
“Dit lyk of die beeste uit die kampe gejaag is na ’n vleiarea naby die R42. Hulle slaap gewoonlik in krale naby die huis, maar dit lyk of die diewe bang was vir geraas,” sê Van Wyk.

Hy sê wat die aanval besonders skokkend maak, is die uiterste brutaliteit. Die beeste se hakskene is met ’n panga afgekap, wat hulle in die agterlyf verlam het en verhoed het om te ontsnap. “Van die beeste is fisies geslag, ander is so erg beseer dat hulle later uitgesit moes word. Selfs geharde polisiemanne was verstom oor die wreedheid,” vertel hy.
Van die 17 beeste wat aangeval is, is 10 geslag, vier verlam en later uitgesit, terwyl ’n paar gered kon word. Ten spyte van die grootskaalse aanval het die diewe slegs met vleis van twee beeste en ’n agterkwart weggekom.

Die beeste was Holstein-Simmentaler-kruisings, in produksie en is twee keer per dag gemelk. Sommige was dragtig en sou later in Desember kalf. Van Wyk beraam die verlies op sowat R25 000 per bees, met ’n totale skade van ongeveer R400 000.
’n Saak is geopen en word deur die polisie se veediefstaleenheid ondersoek. Die motief vir die aanval is nog onbekend, en niemand is in hegtenis geneem nie. Van Wyk sê hy hoop plaaslike owerhede kan boere help om die toenemende veediefstal in die gebied hok te slaan.

