News

Yolandie bring hoop en warmte met nuwe Kerslied Wees ’n Lig

Met Kersfees om die draai deel die bekende sangeres ’n inspirerende lied wat hoop en medemenslikheid vier.

MEYERTON – Met Kersfees om die draai het die veelbekroonde Afrikaanse sangeres en storieverteller Yolandie haar nuwe Kersfees-lied, Wees ’n Lig, vrygestel – ’n musikale herinnering dat die ware betekenis van Kersfees in eenvoud, medemenslikheid en liefde lê.

Volgens Yolandie is die lied gebore uit ’n diep behoefte om hoop en menslikheid te deel in ’n tyd wanneer baie mense dit dringend nodig het. “Ek wou ’n Kerslied skep wat mense se harte aanraak en ons herinner aan die klein gebare wat die wêreld beter maak,” sê sy. “Dis my wens dat hierdie lied luisteraars inspireer om self ’n lig te wees.”

Met lirieke wat aanmoedig om ’n bord kos te deel, ’n hand vas te hou of tyd te maak vir iemand wat alleen voel, dra Wees ’n Lig ’n tydlose boodskap. Die lied word gedra deur ’n sagte, innige melodie en Yolandie se kenmerkende stem, wat warmte en eerlikheid uitstraal.

Die lied nooi luisteraars uit om nie net die geboorte van Christus te vier nie, maar dit ook uit te leef – deur liefde te gee sonder verwagting en harte oop te maak sonder oordeel. “Kersfees herinner ons aan dit wat werklik belangrik is, iets wat ons maklik in die gejaag van die alledaagse lewe vergeet,” sê sy.

Wees ’n Lig is sedert 24 Oktober beskikbaar op alle groot digitale platforms, insluitend Spotify, Apple Music en YouTube.

Yolandie het die afgelope paar jaar ’n sterk voetspoor in die Afrikaanse musiekbedryf gelaat, met radiotreffers soos Morné se Lied, Alles oor jou en Engel aan my sy. Saam met haar eerste boek, Die wonderwerk van Morné se Lied, bou sy steeds voort aan ’n nalatenskap van hoop, geloof en menslikheid.

Die omslag van Yolandie se nuwe Kerslied Wees ’n Lig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button