Berugte Vaaldriehoeker wéér in die nuus
Emile de Witt (36), ‘n man wie se naam gereeld in sake van eiendomsbedrog opduik, is weer in die nuus. Hierdie keer omdat ’n Bryanston-egpaar kla dat hy, as huurder van hul R8,9 miljoen-woning, nie huur betaal het nie en reeds meer as R350 000 aan water- en elektrisiteitsrekeninge skuld.
VANDERBIJLPARK – Emile de Witt (36), wie se naam na bewering aan verskeie eiendoms- en bedrogsaangeleenthede gekoppel word en wat gereeld in die die hof verskyn, is weer vir die verkeerde redes in die nuus.
Die nuuswebwerf News24 berig dat ’n Bryanston-egpaar kla dat De Witt volgens hulle nie huur betaal nie en reeds groot bedrae aan agterstillige water- en elektrisiteitsrekeninge skuld.
Die R8,9 miljoen-woning in Wilton Avenue word teen R45 000 per maand verhuur. Die hofsaak is tans aanhangig en is uitgestel tot Februarie 2026.
Volgens die eienaars, Veena Jog en haar man, was hulle aanvanklik nie bewus van De Witt se reputasie toe hulle die eiendom verhuur het nie.
Hy het glo aangebied om ses maande se huur vooruit te betaal en die huis daarna te koop.
Die eerste maand se huur en deposito is ontvang, maar verdere betalings het nie gevolg nie, deels weens aanpassings wat hy versoek het.
Privaatondersoeker Mike Bolhuis sê De Witt het ’n reputasie vir die oorname van eiendomme en selfs voertuie, en dat verskeie aanklagte teen hom in Gauteng, die Noord-Kaap en Vrystaat aanhangig was.
Hy het die afgelope paar jaar ook gereeld in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn.
De Witt het gesê hy kan tans nie oor die hofsaak kommentaar lewer nie en het benadruk dat vorige bewerings nie bewys is nie.
Die eienaars hoop om die saak vinnig op te los sodat hulle weer beheer oor die eiendom kan kry.
Die luukse Bryanston-huis bevat drie dubbelkamers, gastekamer, vier-motor motorhuis, swembad, oopplan-kombuis, wynkelder en studeerkamer.
