Kommer oor toestand van Stonehaven-brug oor die Vaalrivier
‘n Vaalweekblad-leser het kommer uitgespreek oor die stand van die Stonehaven-brug.
VANDERBIJLPARK – Kommer is op sosiale media uitgespreek oor die toestand van die brug oor die Vaalrivier by Stonehaven nadat ’n plaaslike inwoner foto’s gedeel het wat krake en erosie van die beton toon.
William Billy Stonehouse, ’n leser, het die foto’s op ’n plaaslike Facebook-groep geplaas en gesê hy het die skade opgemerk tydens ’n besoek aan die area.
Volgens Stonehouse is daar duidelike krake in dele van die brug, asook gedeeltes waar die beton só verweer is dat die staalversterking binne-in sigbaar is. ’n Boom wat uit die struktuur groei, is ook op die foto’s te sien.
“Gister by Stonehaven bietjie gaan kuier toe sien ek dit onder die brug en die boom wat die brug kraak. Moet dit nie nagegaan word nie?” het Stonehouse geskryf.
Dit is tans onduidelik watter owerheid vir die instandhouding van die brug verantwoordelik is, en of die skade reeds aangemeld is.
Die brug word gereeld deur motoriste en besoekers aan die Stonehaven-gebied gebruik.


