Vermeende moordenaar vry, gesin lewe in vrees
Nadia en haar kinders leef in vrees terwyl die vermeende moordenaar van hul pa vry rondloop.
KOPPIES – Wat op 22 Junie 2024 as ’n doodgewone aand begin het, het vir Nadia Potgieter en haar gesin vinnig in ’n nagmerrie verander.
“Ek het uit my bed geklim om te kyk wie so geskree het,” vertel Nadia. “Toe ek by die sitkamerdeur kom, het Marvin die deur oopgetrap en was in my gesig en nek. Ek het hom weg gestamp, maar David het uit die slaapkamer gekom en gesê: ‘F*k uit my poppie se gesig.’”
In ’n oomblik van chaos het Marvin Abrahams volgens Nadia na David toe gestorm en hom met ’n skerp voorwerp in die keel gesteek. Kort daarna was David dood. Nadia se stem breek selfs maande later wanneer sy die gebeure probeer herroep. “David het buite in die koue gelê en sy laaste asem uitgeblaas,” sê sy.
Sedertdien leef Nadia en haar sesjarige tweeling van hofverskyning tot hofverskyning, elke dag gevul met spanning en hoop dat geregtigheid uiteindelik sal geskied.
Deur ’n administratiewe fout is die saak van die hofrol verwyder en die beskuldigde vrygelaat. Nou leef ons in vrees, elke dag onseker oor wat kan gebeur.
Die kinders kry nagmerries en probeer steeds verstaan waarom hulle pa nie meer daar is nie. “Dit vat baie van my kinders om sonder hulle pa groot te word,” sê Nadia. “Hulle vra daagliks vrae wat ek nie kan beantwoord nie.”
Die familie ken die aanvaller persoonlik. “Ons het hom jare gelede deur ’n familievriend geken. David het hom al gewaarsku oor sy gedrag, maar hy het teruggekeer en uiteindelik hierdie tragedie veroorsaak.”
Wat die pyn nog erger maak, is die gevoel van onreg. Die hof het die saak van die rol verwyder omdat die oorspronklike klagstaat nie betyds beskikbaar was nie. “Mens kan die gereg glad nie meer vertrou nie,” sê Nadia. “Deur ’n administratiewe fout is die saak van die hofrol verwyder en die beskuldigde vrygelaat. Nou leef ons in vrees, elke dag onseker oor wat kan gebeur.”
Ten spyte van hartseer en teleurstelling is Nadia vasbeslote om nie stil te bly nie. “Ek gaan veg totdat daar geregtigheid is — nie net vir David nie, maar ook vir my kinders wat sonder pa grootword.”
