News

Bornman-broers beïndruk op wêreldverhoog van armdruk

Met nóg ’n oortuigende oorwinning op die wêreld se grootste armdruk-verhoog wys die Bornman-broers dat Meyerton se krag internasionaal tel.

MEYERTON – Die kampioenarmdrukker Riekerd Bornman (22) het sy elite-status weereens bevestig toe hy onlangs ’n oortuigende regterhand-oorwinning by die East vs West 21-toernooi — die grootste professionele armdruk-verhoog ter wêreld — behaal het.

Dit was Bornman se derde East vs West-verskyning, en sy derde agtereenvolgende oorwinning met die regterarm.

Ná oorwinnings teen Wallace Dilley (East vs West 18) en die Oekraïner Pavlo Derbedyenyev (East vs West 19), het hy dié keer die Russiese kragman Aleksandr “Schoolboy” Beziazykov met 3–0 geklop.

Kort voor die hoofwedstryd het Bornman ook ’n onverwagte uitdaging aanvaar om met die linkerarm teen Schoolboy te stoei, ondanks die feit dat hy vooraf erken het dat hy nie sy linkerarm geoefen het nie.

Soos verwag, het die Rus die linkerarm-wedstryd met 3–0 gewen, maar Bornman is geloof vir sy bereidwilligheid om die uitdaging aan te pak.

Riekerd Bornman en Aleksandr “Schoolboy” Beziazykov meet kragte by East vs West 21. Foto: Riekerd Bornman/Instagram

“Dit is my brood en botter,” het Bornman ná die wedstryd oor sy regterarm gesê. “Die regterhand-wedstryd was ongelooflik groot, en ek het alles daarin gesit.”

Bornman het ook bevestig dat hy nou ’n kort breek gaan neem om te herstel, aangesien hy reeds geruime tyd met elmboogprobleme sukkel. “Ek is hierin vir die lang termyn,” het hy gesê.

Die Bornman-naam het verder geskitter toe sy jonger broer, Duvan (19), ook by East vs West 21 deelgeneem het.

Duvan het die 115 kg-afdeling in die voorprogram gewen en sodoende ’n plek op die superwedstrydkaart verdien.

Daar het hy teen die ervare Curtis Cameron meegeding en ongelukkig 3–0 verloor.

Met albei broers wat reeds hul merk op die wêreldverhoog maak, dui alles daarop dat die Bornman-familie se opmars in internasionale armdruk nog lank nie verby is nie.

Duvan en Riekerd Bornman. Foto: Verskaf

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button