Drievoudige tragedie tref familie oor feestyd
Dubbele tragedie oor feestyd: motorongeluk op R59 eis lewe van ’n vriend, terwyl die familie se Doberman Mandy spoorloos verdwyn.
PARYS/SASOLBURG – Die Crouwkamp-familie van Parys is oor die feestyd deur ’n drievoudige tragedie getref.
Enkele dae ná die afsterwe van Willie Crouwkamp (senior) op 16 Desember, is die familie op 22 Desember betrokke by ’n ernstige motorongeluk op die R59 tussen Parys en Sasolburg, wat die dood van ’n familie-vriend en ernstige beserings tot gevolg gehad het.

Om dinge erger te maak, het hul hondjie Mandy ook van die ongelukstoneel weggehardloop en word steeds gesoek.
Volgens Sonja Crouwkamp het die ongeluk omstreeks 16:00 gebeur toe hulle tussen Parys en Sasolburg gery het.

Haar seun, Willie Crouwkamp (junior), het vertel dat hy uit die voertuig moes word gesny met die “jaws of life” en in ’n Sasolburg-hospitaal behandel is vir skouerbeserings.
Sy broer, Corné Crouwkamp, het ernstige hoofbeserings opgedoen en is eers in Sasolburg gestabiliseer, toe na Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein en uiteindelik Universitas-hospitaal oorgeplaas.

Die bestuurder, Frans Combrink, ’n vriend van die familie, is deur die voorruit van die voertuig geslinger en het na bewering op die toneel gesterf.
Volgens Willie Crouwkamp (junior) het hulle teen 90–100 km/h gery toe Frans beheer verloor het: hy het eers na links geswaai, wat hulle in die veld sou laat beland het, en toe terug na regs om weer op die pad te kom.

Die ongeluk het nie net fisiese skade veroorsaak nie, maar ’n groot emosionele tol geëis.
Dit volg net dae ná die afsterwe van Sonja se man, Willie Crouwkamp (senior), wat eers ’n ligte beroerte, daarna ’n tweede ernstiger beroerte, en uiteindelik ’n hartaanval gehad het.

Volgens die familie was dit ’n “dubbele, selfs drievoudige klap” – met die afsterwe van Frans Combrink ingesluit.
Die familie het nog nie na die ongeluksterrein teruggekeer nie, wat volgens Willie Crouwkamp (junior) naby die tolhek op die N1 is, sowat 15 km van Sasolburg.
Die voertuig het aan die oorlede Willie Crouwkamp behoort.
Die eienaar se hartseer sluit ook die vermiste hond, Mandy, in. “My ma treur oor die hondjie. Sy sal net so bly wees as iemand haar kan kry,” sê Willie.

