Verlate Kia-bussie word R59 se nuutste ‘landmerk’
’n Verlate Kia Carnival-minibus sonder wiele wat al weke lank langs die R59 staan, het motoriste se tonge los.
VEREENIGING – ’n Silwer Kia Carnival-minibus wat reeds sedert 12 Desember langs die R59 net voor die Redan-afrit staan, het die afgelope tyd heelwat aandag getrek onder motoriste.
Lesers van Vaalweekblad het op sosiale media begin vrae vra oor die voertuig wat verlate staan op die middel-eiland naby die spoorwegoorgang.

By nadere ondersoek lyk dit of al vier wiele van die bussie ontbreek – wat tot spekulasie oor moontlike diefstal gelei het.
Volgens ’n Facebook-plasing deur ‘n leser wat versoek het om anoniem te bly is die eienaar van die bussie intussen opgespoor. Die voertuig het glo onklaar geraak en die eienaar, wat van ver af kom, sou dit na bewering laat wegsleep. Teen Vrydagoggend het die bussie egter steeds op dieselfde plek gestaan.
Ander Facebook-plasings deur, onderskeidelik, Lee-Ray en Noelene, is tong-in-die-kies bygevoeg dat die eienaar seker moet maak om vier wiele saam te bring – aangesien dit klaarblyklik ook “verdwyn” het.
Vir eers bly die bussie ’n vreemde verskynsel en groot gesprekspunt vir pendelaars wat daagliks dié roete gebruik.

