Bek-en-klouseer: Ramptoestand op pad
Steenhuisen rig ramptoestand versoek om bek-en-klouseer op te spoor en internasionale marktoegang te beskerm.
Die minister van landbou, John Steenhuisen, het vandag aangekondig dat hy die versoek om ’n ramptoestand oor bek-en-klouseer (BKS) af te kondig, by die volgende kabinetsvergadering sal rig.
Die Vryheidsfront Plus het vroeër gevra dat hy die versoek rig.
Die VF Plus meen die stap kan ekstra hulpbronne beskikbaar stel om die siekte in die land te bestry.
Minister Steenhuisen het beklemtoon dat die uitwissing van bek-en-klouseer ’n lang proses kan wees – tot tien jaar.
Inenting sal ’n belangrike instrument in die veldtog wees, maar slegs as deel van ’n groter strategie wat bewegingbeheer en die afdwing van kwarantynmaatreëls insluit.
Die uiteindelike doel is om Suid-Afrika se bek- en-klouseervry-status te herwin en die toegang van die veebedryf tot internasionale markte te herstel. Dit sluit ook in die heropbou van die land se vermoë om entstowwe vir die spesifieke variëteit van die siekte te vervaardig.
Die VF Plus het die aankondiging verwelkom, maar sê dit sal die uitvoering krities dophou.
Die party beklemtoon dat die maatreëls wat vandag aangekondig is, sedert 2021 moontlik was sonder ’n amptelike ramptoestand.
Volgens die VF Plus het toetsing sedert die uitbreking in 2021 tydrowend verloop, en diere wat besmet is, is dikwels reeds gesond of bemark voordat kwarantynmaatreëls ingestel is.
Die party sê die staat se wetstoepassingsagentskappe kon destyds saam met plaaswagte opgetree het om die maatreëls af te dwing.
Die VF Plus sê hulle wil glo dat die nuwe plan van aksie nou wel sal werk, maar sal saam met bedryfsorganisasies die departement dophou en politieke druk toepas om die uitvoering van die veldtog te verseker.
