
VANDERBIJLPARK – Die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng het die Gautengse Departement van Vervoer en Logistiek en die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gekritiseer oor die bou van ‘n vliegbrug op die R42. Volgens die party het die projek meer as R400 miljoen gekos, maar is dit steeds onvoltooid.
In ‘n mediaverklaring wat Donderdag uitgereik is, het die DA se Gautengse LP en Emfuleni-burgemeesterskandidaat, Kingsol Chabalala, gesê die brug, wat bedoel was om die noordelike ontwikkelde gebied met die R42 en die toekomstige Vaal River City-ontwikkeling te verbind, het ‘n “brug na nêrens” geword omdat die nodige aansluitingspaaie nog nie voltooi is nie.
Volgens Chabalala staar die munisipaliteit ernstige diensleweringsuitdagings in die gesig en kon die geld eerder aangewend gewees het om probleme soos rioolstortings, vullisverwydering en verswakkende paaie aan te spreek.
Die DA het gesê hy het vrae in die Gautengse Provinsiale Wetgewer ingedien oor die doel van die brug, die beplanning van die projek en die logistiek rondom die konstruksie daarvan.
Volgens die antwoorde wat ontvang is, beweer die party dat twee bykomende brûe gebou is om by die vliegbrug aan te sluit, maar dat hulle tans na onontwikkelde gebiede lei.
Die DA voer verder aan dat die voltooiing van die aansluitingspaaie na raming ongeveer R55 miljoen sal kos en afhanklik is daarvan dat die privaat Vaal River City-ontwikkeling finansiering daarvoor bekom.
Die party sê geen tydsraamwerk is hiervoor bekend gemaak nie en dat die aansluitingspaaie nooit deel van die oorspronklike provinsiale padprojek was nie omdat dit op privaat grond geleë is.
Chabalala meen die situasie dui op wat hy as ‘n gebrek aan strategiese beplanning deur die ANC-beheerde administrasie beskryf.
Die DA het gevra vir groter aanspreeklikheid oor die besteding van die geld en het ‘n beroep gedoen dat dienslewering groter prioriteit geniet.
Teen druktyd het nóg die Gautengse Departement van Vervoer en Logistiek nóg die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit op die DA se bewerings gereageer. Hul kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
