News

Henley-busramp leef voort in herinnering

Ses-en-vyftig jaar ná die noodlottige botsing by die Highbury-kruising word die Henley-busramp steeds jaarliks herdenk deur skole en inwoners van Meyerton.

HENLEY-ON-KLIP — Die Henley-busramp, een van die donkerste dae in Midvaal se geskiedenis, word steeds jaarliks onthou as ’n oomblik wat ’n hele gemeenskap gevorm het.

Op 28 Januarie 1970 het ’n skoolbus met leerders van verskeie Meyerton-skole op die treinspoor by die Highbury-kruising tot stilstand gekom voordat dit deur ’n aankomende trein getref is. Die ramp het die lewens van 23 kinders geëis, terwyl talle ander beseer is.

‘n Lugfoto van die skoolbus ongeveer 90 minute ná die Henley-busramp van 28 Januarie 1970.

Vandag leef die herinnering voort as ’n verhaal van verlies, maar ook van hoe ’n gemeenskap saamgestaan het.

. Elke jaar lê leerders van skole in Meyerton, saam met gemeenskapslede, blomme by gedenkplekke as ’n teken van herinnering en respek.

Die heldedaad van Johan le Roux, ’n matriekleerling wat ander leerders probeer help ontsnap het, leef steeds sterk voort in plaaslike geheue.

Johan le Roux, ’n matriekleerling, word steeds onthou vir sy dapperheid tydens die Henley-busramp van 28 Januarie 1970.

Sy vriend, Dawie Louw, het Maandagoggend op sosiale media geskryf dat die beeld van ’n skoolbus en die geluid van ’n trein hom steeds bybly — ’n stille herinnering aan ’n dag wat nooit vergeet sal word nie.

Vir baie inwoners bly die jaarlikse herdenking ’n oomblik van stil nadenke, waarin jong lewens onthou word en die impak van die ramp van geslag tot geslag oorgedra word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: [email protected]
Check Also
Close
Back to top button