VEREENIGING – Die Barnyard, soos hy voorheen bekendgestaan het, was verlede Saterdagaand weer tot teen die dakkappe volgepak tydens Collide Fight League (CFL) se Night of Champions.
Die honderde jillende en gillende toeskouers is met 17 gevegte bederf, terwyl die atmosfeer deurentyd tasbaar was.

Onder flitsende disco ligte, polsende musiek en die opgewondenheid van die skare het die vegters hulle beste in die kryt gelewer.

Die bekende Vaaldriehoeker, Vian Singleton van Sewende Laan-faam, het as aankondiger die gehoor opgesweep, terwyl die beeldskone ring girls verseker dat die toeskouers en vegters presies geweet het watter rondte dit was.

Die skoppe het soos geweerskote weergalm en mondstukke wat deur die lug gevlieg het, het vir verdere opwinding gesorg.
Die drie hoofgevegte van die aand het veral baie belangstelling gewek en die skare behoorlik laat brul van plesier. Verskeie plaaslike vegters, waaronder Johan Pretorius, Christiaan Pretorius, Karla Coetzer, Charne VerweyDeetlefs, San-Mari Geldenhuys en Rickert Harmse van Meyerton Fighting Systems, het die plaaslike toeskouers waarde vir hul geld gegee.

K1-skopboks bly een van die gewildste kontaksportsoorte ter wêreld en het weereens bewys waarom dit soveel ondersteuners lok.
David Kies, die organiseerder van die toernooi, is baie tevrede met die opkoms en ondersteuning wat die toernooi ontvang het. “Ek moet bieg hierdie was een van ons beste toernooie ooit.”




