Misdaad daal, maar vrae bly
Syfers dui op ‘n afname in misdaad, maar daar is twyfel oor die akkuraatheid van die syfers.

Suid-Afrika se jongste misdaadsyfers toon beduidende afnames in verskeie ernstige misdaadkategorieë, maar daar bly beduidende vrae oor die betroubaarheid van die data.
Volgens die jongste kwartaallikse statistiek vir Oktober tot Desember 2025 het moord met 8,7% afgeneem – van 6 953 voorvalle tot 6 367. Verkragting is 3,2% laer, ernstige aanranding 7,5% minder en gewapende roof 11,3% af.
Die sogenaamde trio-misdade het ook skerp dalings getoon. Motorkapings het met 8,1% afgeneem, rooftogte by woonhuise met 12,9% en rooftogte elders met 22,5%. Veediefstal is 9,6% laer, terwyl diefstal uit woonhuise met 8,2% en ander diefstal met 12% afgeneem het.
Tog het die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie, Wouter Wessels, gesê die syfers moet beoordeel word in die lig van kritiek oor hul akkuraatheid.
Hy verwys onder meer na bevindings deur die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika dat ’n beduidende deel van polisie-data onbetroubaar kan wees weens foute, swak kontroles en moontlike manipulering.
Daar is ook verwys na bevindings deur Statistieke Suid-Afrika se Victims of Crime Survey, wat op grootskaalse onderaanmelding van misdaad dui – veral seksuele oortredings – dikwels weens ’n gebrek aan vertroue in die polisie.
Navorsing deur die Instituut vir Sekerheidstudies toon verder dat openbare vertroue in die polisie laag bly, wat volgens kenners ’n invloed op aanmeldings en uiteindelik op statistieke kan hê.
Die polisie het aangekondig dat ’n samewerkingsooreenkoms met Statistieke Suid-Afrika gesluit is om te verseker dat misdaadstatistieke akkuraat is en in lyn met internasionale beste praktyke.
Hoewel die jongste syfers op papier ’n positiewe tendens toon, meen ontleders dat die werklike impak daarvan eers duidelik sal word namate vertroue in die data en die strafregstelsel self herstel word.
