SwimSmart Aquatics-span blink uit by Midmar Myl
Drie jong swemmers het golwe by vanjaar se Midmar Myl gemaak.
MEYERTON – Drie jong swemmers van SwimSmart Aquatics het vroeër vandeesmaand hul merk gemaak by die Midmar Myl, die wêreld se grootste oopwater–swembyeenkoms.
Hulle het uitstekende tye in hul heel eerste mededingende seisoen behaal.

Larike van Heerden, wat in die dogters o13–afdeling meegeding het, het die myl in 39:09 voltooi en 199ste uit 402 in haar kategorie geëindig.
Zuan Nel, ook in die o13–afdeling, het die myl in 30:09 voltooi. Hy het 65ste uit 310 in sy ouderdomsgroep geëindig en ’n indrukwekkende 165ste algeheel uit 1 186 deelnemers behaal.

In die seuns 14–30-afdeling het Silas Hu een van die dag se uitstaande vertonings gelewer.
Hy het die myl in 24:21 voltooi en 84ste uit 710 in sy kategorie, sowel as 86ste algeheel uit 759 swemmers geëindig.

Die span se afrigter, Elzana Swanepoel, het self ook aan die Midmar Myl deelgeneem en die span vergesel.

