Bejaarde man sterf ná pitbull-aanval
’n 77-jarige man is kritiek beseer in ’n hondaanval in Risiville en het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
VEREENIGING – ’n 77-jarige man is Vrydag dood nadat hy glo deur ’n pitbull aangeval is.
Volgens nooddiensbronne het die voorval Vrydagoggend omstreeks 08:09 in Raymondstraat in Risiville plaasgevind.
Verskeie rolspelers, insluitend CERT, Sekuriteit Sonder Grense, ER24 en CB EMS, het op die gereageer nadat ’n oproep vir bystand vir ’n ernstig beseerde man op ‘n plaaslike WhatsAppgroep versprei is.
Toe eerste reaksiespanne opdaag, is die bejaarde man kritiek beseer aangetref.
Hy het ernstige beserings, onder meer aan sy keel, opgedoen.
Nooddienswerkers het hom op die toneel behandel voordat hy per ambulans na ’n hospitaal vervoer is.
Hy het ure later aan sy beserings beswyk.
Die man se naam is aan Vaalweekblad bekend, maar word weerhou totdat bevestig is dat sy naasbestaandes in kennis gestel is.
Die presiese omstandighede van die aanval was teen druktyd nog onduidelik.
Volgens inligting op die toneel was die hond vermoedelik ’n pitbull-terriër wat aan sy dogter behoort.
Omdat dit as ’n onnatuurlike dood beskou word, sal ’n lykskouing gedoen word om die presiese oorsaak van dood te bepaal.
Vaalweekblad het kommentaar van die Meyerton SAPD se kommunikasiebeampte, Nompumelelo Zazini, sowel as sersant Thembeka Maxambela van die Vereeniging SAPD versoek, maar wag nog op terugvoer.
