
Suid-Afrikaners kan hulle regmaak vir een van die grootste petrol- en dieselprysstygings nóg wanneer nuwe pryse in April in werking tree.
Volgens die Sentrale Energiefonds (CEF) se jongste vooruitskatting kan petrol met tussen R3,87 en R4,27 per liter styg, terwyl diesel met meer as R7 per liter kan opskiet.
Dit beteken dat 95-oktaan petrol in die binneland moontlik tot sowat R24,57 per liter kan klim. Ligte paraffien kan selfs met byna R9 per liter duurder word.
Die finale pryse sal eers later deur die Departement van Minerale Hulpbronne bevestig word, maar die huidige syfers dui reeds op ’n ongekende styging.
Boonop tree ’n verhoging van 21 sent per liter in brandstofbelasting op 1 April in werking.
Die hoofrede vir die styging is wisselende internasionale oliepryse, aangevuur deur spanning in die Midde-Ooste.
Omdat Suid-Afrika grootliks van ingevoerde brandstof afhanklik is, slaan dié skommelinge vinnig deur na plaaslike pryse.
Minister Gwede Mantashe het reeds gewaarsku dat verdere styginge moeilik vermy gaan word.
Intussen verhoog Eskom ook elektrisiteitstariewe met 8,76% vanaf 1 April, wat die druk op huishoudings verder verhoog.
Die stygings sal duurder vervoer en hoër alledaagse uitgawes tot gevolg hê.
