
TSHWANE – Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) sê hy ondersoek bewerings van korrupsie en omkoopery teen van sy eie personeel.
Ses huidige en voormalige SARS-werknemers, word saam met betrokke belastingbetalers en handelaars ondersoek.
SARS sê soektogte is uitgevoer waartydens daar op bewyse beslag gelê is.
Die ondersoek fokus op ’n skema waarin doeane-inspeksies na bewering in ruil vir kontantomkope gemanipuleer is.
Die beweerde omkopery het gelei tot die verlies van R45 miljoen aan onderaangemelde belasbare inkomste, wat die staatskas van ongeveer R18 beroof het.
SARS-kommissaris Edward Kieswetter sê die veldtog vorm deel van volgehoue pogings om inkomste te beskerm, Suid-Afrika se grense te beveilig en integriteit te handhaaf.
“Enigeen wat die wet oortree, binne SARS of daarbuite, sal aanspreeklik gehou word,” waarsku hy.
Hy voeg by dat korrupsie publieke vertroue in die inomstediens ondermyn, eerlike belastingbetalers en handelaars benadeel en fondse van noodsaaklike dienste wegtrek.
SARS sê hy werk saam met die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag.
Die publiek word aangemoedig om enige vermoed van omkoopery, bedrog of doeane-afwykings aan te meld.
