Bejaarde (79) sterf ná pitbull-aanval
Die familie vermoed dat die oorledene op die hond geval het en dat dit moontlik tot die aanval kon bygedra het.
VEREENIGING – Die 79-jarige Joe Panoias van Risiville is op Vrydag 13 Maart oorlede nadat hy ernstige beserings opgedoen het in ’n voorval met ’n pitbull by sy woning in Raymondstraat.
Nooddienste, insluitend CERT, Sekuriteit Sonder Grense, ER24 en CB EMS, het omstreeks 08:09 gereageer op ’n oproep vir bystand, nadat daar op ’n plaaslike WhatsApp-groep berig is van ’n ernstig beseerde man.
Met aankoms is Panoias in kritieke toestand aangetref met beserings, onder meer aan sy gesig, keel en vingers.
Hy is op die toneel behandel en daarna na die Midvaal-hospitaal vervoer, waar mediese personeel verskeie pogings aangewend het om sy lewe te red.
Familielede het later meer konteks verskaf. Panoias se seun, Jose, het aan Vaalweekblad gesê die twee honde op die perseel was opgelei en dat die familie oor sertifikate van opleiding beskik.
Volgens hom woon die diere al sewe jaar by die familie en word hulle baie goed versorg.
Die familie vermoed dat Panoias moontlik op een van die honde geval het, wat die besering aan sy vinger verklaar, en moontlik tot die aanval bygedra het.
Hy sê sy stiefma is die eerste een wat by die toneel opgedaag het. Jose het ook vertel dat ’n buurman die lawaai gehoor het en twee waarskuwingskote afgevuur het.
Die hond het na ’n kamer gevlug waar die dier toegemaak is, en later deur die polisie uitgesit is.
Die tweede hond op die perseel was na bewering nie by die voorval betrokke nie.
“Die voorval was grusaam en baie bloedig,” het Jose gesê.
“Dokters het my pa verskeie kere tussen 09:00 en 15:00 bygebring na sy hart elke keer gaan staan het, maar hy is uiteindelik oorlede.”
Die presiese omstandighede van die voorval word steeds ondersoek.
Omdat die dood as onnatuurlik beskou word, sal ’n lykskouing gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal.
Vaalweekblad het kommentaar versoek van Meyerton SAPD se kommunikasiebeampte, Nompumelelo Zazini, sowel as sersant Thembeka Maxambela van Vereeniging SAPD, en wag nog op terugvoer.
