Eendeweer kan die petrolkoppe nie keer
Die Wieledag word jaarliks ingespan om fondse vir die kerk se liefdadigheidsprojekte in te samel. Foto: Ettienne van Rensburg
VEREENIGING – Nie eens ’n gure wolkbreuk kon op 21 Maart die enjins laat stilbly by die NG Kerk Drie Riviere-Oos se jaarlikse Wieledag Motorskou nie.

Terwyl die donker wolke oor Laerskool Risiville saamgepak en ysige reëndruppels neer geknetter het, het motorliefhebbers vasgebyt tot die ergste weer oorgewaai het.
Die dag is met groot sorg deur ds. Chris en sy vrou Martie Olivier gereël, wie se toewyding aan die gemeenskap die geleentheid elke jaar moontlik maak.
Die fondsinsameling ten bate van die kerk se liefdadigheidswerk het die spilpunt gebly. Die Wieledag gaan oor meer as net blink verf en brullende enjins.
Op die veld het daar ’n kleurryke mengsel van nostalgie en adrenalien gestaan.

Resiesrooi en spierwit Ford Mustangs wat soos donderweer gegrom het, en immergroen Ford Capris wat die ouer garde laat terugdink het aan dae toe petrol nog 96c per liter was.
Die Volkswagen kewers het soos smarties in die reën op die gras gespikkel.

Opgesoepte Chevs, bielie bakkies en ’n ry motorfietse het die toneel aangevul, maar dit was die groen-engoud Springbokmobiel, ’n Volkswagen-kewer met Bokbling wat oorloop, wat baie oë en kameras sy kant toe laat swaai het.

Intussen het die geur van vars pannekoek en worsbroodjies die lug gevul, terwyl stalletjies en lekkernye kleur en lewe aan die reëndag gegee het.
Die Wieledag het weer bewys dat passie en liefde vir jou medemens selfs die swaarste en donkerste wolke kan verdryf.
