Boltonwold sonder krag na daad van vandalisme
Die hele buurt is sonder krag nadat vandale Dinsdagaand hoëspanningkabels en drade gesteel het.
OPDATERING – 2026/04/01 – 16:05
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het bevestig dat spanne tans besig is om die gesteelde en beskadigde infrastruktuur te vervang.
Die munisipaliteit beraam dat herstelwerk 10–12 uur gaan neem, wat beteken dat krag tussen 19:15 en 21:15 hergestel kan word.
Inwoners word versoek om alle elektrisiteit as lewendig te beskou tydens die herstelperiode
Die munisipaliteit vra omverskoning vir die ongerief en moedig inwoners aan om voorvalle van vandalisme by die plaaslike owerhede aan te meld.

MIDVAAL – Vandale het die Boltonwold-kleinhoewes buite Meyerton en omliggende areas sonder krag gelaat nadat ’n houtkragpaal van die munisipaliteit laat Dinsdagaand gevandaliseer is.
Inwoners sê die voorval het teen ongeveer 23:00 plaasgevind.
Een inwoner het in ’n plaaslike WhatsApp-groep geskryf: “Vandalisme in Boltonwold. Hulle het die paal gesny en hoëspanningkabels en drade gesteel.”
Spanne van die Midvaalse Plaaslike Munisipaliteit is tans op die toneel om die skade reg te stel. Dit is nog onbekend hoe lank herstelwerk gaan neem.

