
VANDERBIJLPARK – Die Demokratiese Alliansie (DA) in Emfuleni voer aan dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit homself in ’n projekkrisis van R4,2 miljoen bevind met verskeie kapitaalprojekte wat half gebou staan ondanks volledige befondsing.
Volgens DA-koukusleier raadsheer Nkosi Duncan Mthembu is die stadige vordering en wanbesteding van fondse ’n teken van diepgewortelde bestuurs tekorte in die ANC-beheerde munisipaliteit.
Onder die projekte wat glo tot stilstand gekom het, tel die opgradering van Moshoeshoestraat (wat teen Junie 2026 voltooi moes wees), die ontwikkeling van die nuwe Yekani-vullisterrein, en die opgradering van die Palm Springs-vullisterrein.
Hierdie projekte is volgens die DA van kritieke belang om Emfuleni se toenemende afval- en onwettige storting krisis te bekamp.
Van die munisipaliteit se 23 kapitaalprojekte is slegs ses halfpad voltooi, wat die DA aan swak beplanning en wanbestuur toeskryf.
Die vinnige besteding van die R4,2 miljoen EPWP-toekenning, sonder sigbare resultate, wek verdere kommer oor waar die geld werklik heen is en plaas die munisipaliteit se deursigtigheid onder ’n wolk van twyfel.
Die vertraging van projekte het reeds direkte gevolge vir inwoners, veral in terme van padinstandhouding, dienslewering en toenemende onwettige storting.
“Die munisipaliteit se onvermoë om hierdie projekte te bestuur is onaanvaarbaar. Ons sal aanhou veg om te verseker dat belastingbetalers waarde kry vir hul geld,” sê hy.
Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se woordvoerder, Makhosonke Sangweni, is om terugvoering genader. Sy terugvoering was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
