Vaal-fietsryer skitter op die baan
Vaal se jong fietsryer wys haar spoed en talent op die baan.
VANDERBIJLPARK – Shanique Marx, ’n belowende jong fietsryer van die Vaal, het geskitter toe sy onlangs aan die Suid-Afrikaanse baanfietsrykampioenskap deelgeneem het.
Shanique, ’n leerder van Hoërskool Transvalia wat vir die On Track by NXTG Racing-span ry, het tussen 1 en 6 April aan die kampioenskappe in Bellville deelgeneem, waar sy een goue en drie bronsmedaljes behaal het. Sy het ook in drie ander items in die Top 5 geëindig.
Haar besonderse prestasies sluit in:
Goud:
• Span-agtervolgingswedren (4000 m) – 1ste
Brons:
• Wedstryd-naelrit (750 m) – 3de
• Individuele agtervolgingswedren (2000 m) – 3de
• Span-naelrit (750 m) – 3de
Top 5-plasings (benewens medaljes):
• Tydrit (1000 m) – 4de
• Uitskakelwedren (4500 m) – 4de
• 1500 m-baanwedren – 5de
Shanique was een van vyf meisies en drie seuns van haar span wat aan die kampioenskappe deelgeneem het. Al die ryers is onder 19 en het saam ’n indrukwekkende totaal van nege goue, vyf silwer en twaalf bronsmedaljes gewen.

