News

Regering wil strenger beheer oor staatsdamme uitoefen

Nuwe regulasies kan toegang tot damme en ontspanning ingrypend verander.

PRETORIA – Die Departement van Water en Sanitasie het konsepregulasies gepubliseer wat die bestuur en beheer van staatsdamme en omliggende staatsgrond vir ontspanning en kommersiële gebruik aansienlik kan verander.

Die voorgestelde raamwerk beoog strenger beheer oor toegangsones, formele magtiging vir sekere aktiwiteite, en meer uitgebreide regulering van kommersiële gebruik van staatswaterwerke en omliggende grond.

Indien die regering se voorstel aanvaar word, kan sekere ontspanningsaktiwiteite voortaan formele magtiging vereis. Foto: Verskaf

Die voorstel vorm deel van ’n formele konsultasieproses ingevolge die Nasionale Waterwet en is nog nie wet nie. Dit kan nog gewysig word op grond van openbare insette.

Die sluitingsdatum vir openbare kommentaar is 13 April 2026.

Insette kan gestuur word na gww@dws.gov.za

Sterk kommer oor impak op regte en ekonomie

Belangegroepe en kritici waarsku dat die regulasies verreikende gevolge kan hê vir eiendomsreg, toegang tot ontspanningsgebiede en plaaslike ekonomiese aktiwiteite.

Een van die hoofbekommernisse is dat huurkontrakte van tot 9 jaar en 11 maande bankfinansiering kan bemoeilik, aangesien finansiële instellings gewoonlik langer termyne vereis. Dit kan die finansiële lewensvatbaarheid en waarde van eiendomme langs staatswaterwerke benadeel.

‘n Sonsondergangtoneel by Vaal Marina—waar voorgestelde damregulasies weer vrae laat oor die toekoms van waterfront-eiendomme en toegang tot staatswater. Foto: Vaalweekblad Argief: Nicoline Grobler

Daar is ook kommer dat ’n skuif na ’n permitgebaseerde stelsel tradisionele ontspanningsaktiwiteite soos visvang, bootvaart en swem kan beïnvloed, en dat toegang tot staatsdamme moontlik van ’n reg na ’n staatsgoedkeuring kan verskuif.

Kritici voer verder aan dat die regulasies administratiewe laste op privaat klubs en gebruikers kan plaas deur verantwoordelikhede soos veiligheidsmonitering en besoekersregistrasie na hulle af te skuif.

Voorgestelde damregulasies laat vrae ontstaan oor die regering se planne met staatsdamme. Foto: Verskaf

Volgens hulle kan dit negatiewe gevolge hê vir toerisme, plaaslike ekonomieë en belegging in waterfront-gebiede.

Ondersteuners van die regulasies sê egter die raamwerk is nodig om verouderde regulasies te vervang, veiligheid te verbeter en omgewingsbeskerming te versterk.

Die openbare deelnameplatform Dear South Africa het ook ’n opsomming van die konsepregulasies gepubliseer en maak voorsiening vir openbare insette via sy webwerf: https://dearsouthafrica.co.za/dws-water-regulations/

Die voorgestelde regulasies dui op strenger beheer oor staatsdamme, wat moontlik die manier waarop ontspanningsaktiwiteite soos visvang, bootvaart en swem beoefen word, kan verander. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button