Finley kou klippe en red so ‘n kleine Bear
'n Mens kry baba hondjies en dan kry jy jong Labradors. 'n Spesie op hul eie. Hul avonture laat hul eienaars soms stomgeslaan. Ontmoet Finley
MIDVAAL – Finley is 10 maande oud en ʼn permanente inwoner van Baxter’s Bark & Breakfast. Een van die eienaar Deoné Longstaff se honde. Tipies Labrador is hy nuuskierig en onnutsig. Eet alles wat voorkom.
Hy kry die beste kos en het baie speelgoed spesiaal gemaak vir honde om aan te kou, maar laas maand het hy wraggies waar besluit om ʼn klip te probeer kou en dit ingesluk.
Natuurlik is hy inderhaas veearts toe geneem, waar niks wou werk nie en hy moes gaan vir ʼn maagoperasie op 19 Maart.

Die oggend het Deoné na die teaterdeur gesit en staar. Sy was gestres oor Finley. Dis toe dat ʼn vrou instap met ʼn pasgebore hondjie. Die naelstring was nog aan en klam. Die vrou het gevra vir hulp. Gesê sy het die hondjie in die pad opgetel.
Diereliefhebber Deoné het dadelik die versorging van die hondjie oorgeneem. (Meer oor wat van die hondjie geword het in hierdie week se Vaalweekblad).

Finley het sy groot operasie oorleef en goed aangesterk. Nie dat hy sy lus vir gevaarlike avonture verloor het nie. Twee dae na sy operasie het hy ʼn halwe avokado van die tafel gegaps. Deoné het net betyds die avo uit sy bek gekry voordat hy die skil en pit gesluk het.
ʼn Paar dae later het hy buite gaan speel. Met die dat hy by die kombuis ingekom het, het Deoné net bloed gesien. Sy het eers gedink, Finley se steke het geskeur. Toe nou nie. Hy het ʼn gat in sy been gehad, wat net hy weet waar en hoe dit gebeur het.

Terug veearts toe. Gelukkig het hy intussen besluit om die lewe ʼn bietjie rustiger te vat en hou hy saam met sy mens-ma ʼn oog oor die kleine Bear.
