Juanita, ’n katjie met bokshandskoene
‘n Rustige administratiewe beampte by die werk—’n meedoënlose skopbokser na-ure.
MEYERTON – Sy mag dalk soos ‘n doodgewone jong, hardwerkende blondine lyk, maar Juanita de Necker (23) is ‘n katjie wat jy beslis nie sonder handskoene moet aanpak nie…
Die 23-jarige werk elke dag van 09:00 tot 17:00 as administratiewe beampte by ASTEC Technologies in Meyerton se industriële gebied.
Maar buite kantoorure verander sy in ‘n skopbokser van formaat!

Juanita se skopboksreis het in Maart 2024 begin nadat ‘n vriendin van haar ma haar aan die sport voorgestel het.
Toe die gogga eers byt, was daar geen wegkomkans nie.
“Dit gee ‘n mens ‘n ander soort adrenalien! Dit maak iets in jou wakker wat jy nie geweet het daar is nie,” vertel sy met passie.

Later hierdie maand gaan Juanita deelneem aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Skopbokskampioenskappe in die Wes-Kaap, waar sy teen die land se top vegters gaan baklei, insluitend die Springbok-rugbylegende Kobus Wiese se dogter, Deminey Wiese.
By Meyerton Fighting Systems, onder Sensei David Kies, oefen Juanita feitlik daagliks teen manlike vegters. “Hulle werk baie harder met my (as die ander vroue), so dit help baie,” vertel sy skertsend.

Juanita sal by die SA-kampioenskappe óf in Low Kicks, óf K1 meeding — wat op die dag bepaal sal word. K1 laat knieë en backhand-houe toe; Low Kicks verbied alles onder die knie.
Juanita kies K1. “Daai is vir my waar hulle die alphas van die puppies skei,” sê sy.
Sy het sedert sy met skopboks begin het, al verskeie gevegte gehad met verskillende uitkomste. Laasjaar se SA-kampioenskappe was vir haar egter ‘n uitdaging. Sy was siek voor die kampioenskappe en op die dag het dinge nie volgens plan verloop nie.
Hierdie jaar het sy veel harder geoefen, selfs soggens voor werk en laat in die aand.
“As jy nie voluit in die kryt insta nie, kan jy dit maar vergeet. Dit is ‘kill or be killed’,” sê sy.

Juanita beskryf die ervaring in die kryt as volg: “Jy kan so afsluit, maar jy hoor net jou coach. Dit is vreemd. Jy sluit heeltemal af. Jy hoor niks. Al wat jy sien is hierdie figuur voor jou en jy moet baklei.”
Skopboks het Juanita gehelp om van haar frustrasies ontslae te raak en ‘n meer gebalanseerde lewe te lei. “Dit wek ‘n ander persoon in jou op,” sê sy.
Haar familie is ondersteunend, al het hulle gemengde gevoelens oor die sport.
Voor sy in die kryt instap, bel sy haar pa en speel ACDC of Rammstein om te fokus.
Juanita beveel skopboks vir almal aan, veral kinders. “Jy kry ‘n veilige ruimte om aggressie te kanaliseer. Dit wys jou wat moontlik is en help jou ‘n ander mindset te ontwikkel.”

