Local newsNews

Agt hektaar begraafplaas skoongemaak

Wanneer organisasies saamwerk gebeur daar dinge. Saterdag het AfriForum Vanderbijlpark, AfriForum Jeug en die VF+ saam 'n verskil gemaak.

VANDERBIJLPARK – Saterdagoggend kon die gedreun van grassnyers en bossiekappers (weed eaters) al van vroeg in die begraafplaas gehoor word.

‘n Span vrywilligers van AfriForum Vanderbijlpark, AfriForum Jeug en die VF+ het saamgespan om ‘n gedeelte van die begraafplaas skoon te maak.

Rudi de Beer het homself geheel uit sy skoene gewerk. Foto: Gerda Bruinette

Hulle het gras gesny, bome gesnoei, blare gehark en takke gesleep. Harde werk in die warm son, maar die manne en vroue het dit met ‘n glimlag gedoen.

Rudi de Beer van AfriForum Vanderbijlpark het die dag georganiseer. Hy het op ‘n stadium sy skoene uitgetrek want hy het die sole daarvan stukkend gewerk.

Om die bome te snoei was ook nie ‘n maklike taak nie. Theunis de Beer van die VF+ het sy lewe gewaag deur in die bome te klim en met ‘n handsaag die ekstra takke afgesny.

Potensiële kandidaat Johan Cronjé hark die gesnyde gras in een van die paaie bymekaar. Foto: Gerda Bruinette

Waar hulle nie die uitstaande takke met ‘n saag kon bykom nie, het die manne met mag en mening aan takke gehang om dit af te kry.

Vanderbijlpark se begraafplaas is baie groot en plek-plek onbegaanbaar. Die span het soveel gedoen as wat hul kon en het uiteindelik agt hektaar skoon gekry.

Julio Agrella sukkel om ‘n oorhangende tak af te kry. Agter hom is ‘n gedeelte van die gras reeds gesny. Foto: Gerda Bruinett

Teen middagete het die son genadeloos korrel gevat en was dit tyd om tot rus te kom.
Vanaf die AfriForum gazebo het die geur van gebraaide wors die lug gevul.

Die span vrywilligers wat Saterdag die harde werk gedoen het. Foto: Gerda Bruinette

Teen 13:00 het die manne en vroue, toegestof en vol klitsgras, onder die gazebo bymekaargekom, waar hul met gebraaide worsbroodjies en koue koeldrank bederf is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button