Ek sê maar net… Dis ‘n skreiende skande!
RUBRIEK - Die Vanderbijlpark begraafplaas. Vaal grafstene amper verdwerg deur bossies. Hoe kry die mense hul geliefdes se grafte?
RUBRIEK – Saterdagoggend neem ek foto’s van die vrywilligers wat by die Vanderbijlpark Begraafplaas werskaf. Ek was jare laas by die begraafplaas.
Het nie familie wat daar begrawe is nie. My oorlede familie is wyd versprei begrawe van Brakpan tot in Rustenburg.
Ek neem foto’s waar die manne en vroue doenig is. Dwaal verder weg om foto’s van die grafte te neem. Dit lyk naar. Ry op ry grafte is onder gras en bossies toegegroei.
Daar is geen grafnommers nie. Geen paadjies meer om by die grafte te kom nie. Hoe weet mense waar hul familie ter ruste gelê is?
Ek dwaal nie te ver nie. Hou my oog op die mense wat besig is om gras te sny, bome te snoei en blare te hark. Ek het al te veel stories gehoor van mense wat in die begraafplaas beroof is.
Die gras en bossies groei so hoog, ‘n hele bende rowers sal daar wegkruip sonder om gesien te word. Die verval laat my met ‘n wrang smaak in die mond.
Duidelik gee die munisipaliteite nie om nie. Geen wonder, al hoe meer mense wend hul tot verassing nie. Ten minste weet ek waar my peetma, my pa en my ma se as is.
Nie dat ek ‘n voorstaander is van begraafplaasbesoeke nie. Vir my leef die mense wat oorlede is in my hart en koester ek die herinneringe. Wat in die grafte is, is nie die mense wat ek geken en liefgehad het nie.
Maar, ek weet dat daar baie mense is wat graag hul geliefdes se grafte besoek. Vars blomme wil neersit. ‘n Oomblik wil vertoef.
In Vanderbijlpark se begraafplaas is dit feitlik onmoontlik. Waar daar eens netjiese rye was, is nuwe grafte tussenin gemaak. Alles lyk net deurmekaar. Vuil en verwaarloos.
Hoe kon die munisipaliteit dit sover laat gaan? Die plek is groot. Die verval nog groter. Nie eens ure se werk deur ‘n span van by die 40 vrywilligers kon meer as agt hektaar skoonmaak nie.
My hart gaan uit na almal wie se geliefdes se grafte onbereikbaar geword het tussen die lang gras en baie bossies.
