Local newsNews

Verlowing steel kollig by fees

Rulane Koen se asem is weggeslaan toe haar kêrel Tristin Louw haar op die verhoog gevra het om te trou.

VANDERBIJLPARK – Lank lewe die liefde! Wat as ’n ligsinnige grappie oor ’n verjaarsdaggeskenk begin het, het in ’n onvergeetlike liefdesverklaring en verlowing op die verhoog voor duisende mense tydens die 2026 Rocking the Vaal-fees geëindig.

Tristin Louw (21) en Rulane Koen (21) gaan trou. Vir Tristin het die idee sowat drie weke voor die fees ontstaan toe hy gesukkel het om die perfekte verjaarsdaggeskenk vir sy meisie, Rulane te kry.

“Ek het gespot met haar ma dat ek dalk net vir haar ’n ring moet koop. Sy het vir my gesê dat ek eers haar pa moet vra. Dis toe wat ek daardie Vrydagmiddag gedoen het,” vertel hy. Rulane het niks vermoed nie.

Toe die oomblik uiteindelik aanbreek, was haar reaksie eenvoudig: “Al wat ek kon dink was yes, uiteindelik!” Die verlowing het tydens die geskiedkundige fees plaasgevind waar meer as 29 000 pannekoeke bedien is om ‘n Guinness-wêreldrekord te verbeter.

Tog sê Tristin daar kon nog meer mense gewees het. “Ek wil hê die hele wêreld moet weet ek wil die res van my lewe saam met haar spandeer.”

Hoewel Rulane altyd gedink het sy sou ’n kleiner verlowing verkies, sê sy nou: “Ek kan nie aan ’n beter manier dink hoe hy my kon vra om te trou nie.” Die ondersteuning van duisende feesgangers het hulle diep geraak.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe mense saam met ons in daardie oomblik deel.” Slegs hul ouers het vooraf geweet van die plan.

Tristin het die ring in sy kouselaai weggesteek. Ironies genoeg ’n plek waar Rulane gereeld sy sokkies wegpak.

“Ek het van niks geweet nie. Ek was so blind soos ‘n mol. Ek is bly dat ek dit nie gesien het nie, want dit het die oomblik net soveel meer spesiaal gemaak.” Toe die skare begin juig, was dit oorweldigend.

“Ek het nogal skaam geraak,” erken Rulane. Vir Tristin het die senuwees egter vinnig soos mis voor die son verdwyn. “Toe sy vir my kyk, het ek besef alles wat saak maak staan reg voor my.” Hul liefdesverhaal het drie en ’n half jaar gelede by aksiekorfbal begin.

Albei stem saam dat hulle ná ’n jaar besef het dat hulle vir mekaar bestem was. Vir Rulane is Tristin se ondersteuning haar grootste vreugde en sy bewonder hom daarvoor.

“Hy glo in my, selfs wanneer ek nie in myself glo nie.” Tristin beskryf haar as saggeaard en onselfsugtig.

Hoewel hulle in ‘n liefdesbeswyming was, het hulle na die verlowing saam met vriende die groot gebeurtenis gevier.

Die paartjie beplan om oor sowat twee jaar te trou, nadat hul studies voltooi is. Trouplanne is nog vaag, maar een ding is seker…hulle wil hul lewens saambou

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button