Karin-Mari amper haar 10de plek in Two Oceans kwyt
Karin-Mari Dötze het verlede naweek weer die Twee Oseane Halfmarathon aangepak en haar posisie van 2025 met vyf plekke verbeter.
VANDERBIJLPARK – Die Twee Oseane se halfmarathon is nie almal se speelplek nie, maar vir Karin-Mari Dötze is dit die ideale plek om haar passie uit te leef.
Sy het hierdie jaar die 21.1km in ‘n tyd van 01:24:49 klaargemaak. Nie haar persoonlike beste tyd nie, maar dit het haar wel ‘n algehele 10de plek onder die vroue-atlete besorg.
Sy was egter amper haar 10de plek kwyt. Karin-Mari sê toe haar vriendin haar wys sy is 10de was sy baie opgewonde, maar toe hulle weer kyk is sy 12de geplaas.
Haar teleurstelling was groot, want sy het vooraf besluit hierdie jaar moet sy óf haar beste persoonlike tyd verbeter, óf onder die Top 10 eindig.
Dit was totdat ‘n vriendin haar gekontak het met die nuus dat die nommer wat 10de geplaas is aan ‘n vroue-atleet behoort wat tans ‘n besering het en dus nie kon deelneem nie.
Hulle moes wag vir die aksiefoto’s en het met baie geduld deur die foto’s gegaan totdat hul die atleet met die nommer gekry het. Dit was ‘n man!
Dit is onder die aandag van die organiseerders gebring en KarinMari se 10de plek en prysgeld is aan haar toegeken. “Ek is dankbaar daaroor, maar het die prysuitdeling gala-aand gemis en daaroor is ek baie teleurgesteld,” sê sy.
Alhoewel sy nie haar persoonlike beste tyd kon verbeter nie, het sy wel haar posisie verbeter. Verlede jaar het sy algeheel 15de geëindig. Volgende jaar gaan sy dit weer aanpak.
Vir die Comrades-marathon sien sy nog nie heeltemal kans nie. “My afrigter het gesê ek moet nog so drie jaar wag voordat ek daardie een aanpak. Intussen konsentreer ek op halfmarathons in die eerste helfte van die jaar en vol marathons in die tweede helfte.”
Karin-Mari is ‘n graad drie onderwyseres by die Laerskool Emfulenipark. Die skool is baie trots op hul juffrou en het op hul Facebookblad geskryf:
“Baie geluk aan ons eie juffrou Karin-Mari Dötze met haar ongelooflike prestasie by hierdie naweek se Two Oceans Marathon. Jou harde werk en deursettingsvermoë is regtig sowaar iets om op trots te wees. Baie, baie geluk!”
