News

AfriForm plaas weer druk oor besoedeling

AfriForum meen dat dienslewering sedert Mothamaha se aanstelling by Ngwathe verder agteruitgegaan.

Voortgesette rioolbesoedeling in die Vaalrivier het weer onder die soeklig gekom nadat AfriForum op 23 April ’n formele versoek aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gerig het om dringende ingryping by Die Sandgat in Parys.

Rou riool vloei daar direk die rivier binne ’n bron wat verder deur die Vaaldriehoek loop en dus ook stroomafgemeenskappe raak.

Volgens AfriForum is die probleem reeds oor ’n lang tydperk aangemeld, maar sonder enige betekenisvolle verbetering.

Die organisasie se optrede volg op die omstrede aanstelling van Futhuli Patrick Mothamaha as munisipale bestuurder in 2024.

AfriForum versoek sedert 2025 sy skorsing nadat hy in hegtenis geneem en aangekla is van bedrog, diefstal, geldwassery en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

Ongeveer R1,9 miljoen het volgens beskuldigings in 2021 uit die begroting van die Maluti-A-Phofung Plaaslike Munisipaliteit verdwyn terwyl hy daar in diens was.

AfriForum meen dat dienslewering sedert Mothamaha se aanstelling by Ngwathe verder agteruitgegaan het en dat die voortdurende rioolstorting ’n teken is van ernstige verval in infrastruktuur en bestuur.

“Dit is onaanvaarbaar dat rou riool steeds vrylik in een van Suid-Afrika se belangrikste waterbronne invloei, terwyl die munisipaliteit versuim om daadwerklik op te tree,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Mooirivier-streek.

Die organisasie wys daarop dat Ngwathe se versuim om op te tree, bots met wetgewing wat die beskerming van waterbronne vereis.

Hulle sê belastingbetalers se fondse word eerder gebruik om regsprosesse te rek as om volhoubare oplossings te implementeer.

AfriForum het ook sy kommer uitgespreek oor die afwesigheid van stoptekens by verskeie gevaarlike kruisings in Parys.

Hoewel die organisasie reeds stoptekens aan die munisipaliteit geskenk het, is dit volgens hulle nog nie opgerig nie.

In ’n brief aan die munisipaliteit eis AfriForum duidelike tydlyne vir ’n permanente oplossing vir die rioolprobleem, asook vir die oprigting van die geskenkte stoptekens.

Die organisasie waarsku dat verdere stappe oorweeg sal word indien die munisipaliteit nie dringend optree nie.

“Gemeenskappe kan nie langer die gevolge van swak bestuur en gebrekkige dienslewering dra nie.

AfriForum sal aanhou druk toepas totdat daar werklike verbetering is,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button