Bikers ry vir antwoorde in Dylan-saak
Byna twee jaar later bly vrae oor Dylan se dood onbeantwoord.
MEYERTON – Plaaslike motorfietsryers het Saterdagoggend aan ’n vreedsame bewusmakingsrit deelgeneem ter ondersteuning van geregtigheid vir Dylan Bothma.
Die 18-jarige Bothma van Heidelberg is in Junie 2023 onder raaiselagtige omstandighede oorlede.

Dylan is op Saterdag 24 Junie 2023 omstreeks 17:30 by ‘n partytjie in Rensburg afgelaai.
Volgens die drukgroep is hy is glo dwelms aangebied, maar het geweier om dit te neem. Dit het volgens die drukgroep tot ‘n gewelddadige rusie gelei.
Toe sy ouers hom later die aand gaan oplaai het was hy spoorloos.
Byna twee jaar later bly vrae oor sy dood onbeantwoord.
Dylan se ouers is later meegedeel dat hul seun in ‘n tref-en-trap ongeluk langs die R23 betrokke was.
Hy is in die Life Suikerbosrand-hospitaal opgeneem en later na die Netcare-hospitaal in Alberton oorgeplaas.
Hy is die volgende oggend omstreeks 04:00 aan beserings beswyk.

Die saak is steeds onopgelos.
Deelnemers het by verskeie punte, onder meer in Risiville en by Riverstone Mall in Meyerton, bymekaargekom voordat hulle na Heidelberg vertrek het.
Die groep het uiteindelik in Voortrekkerstraat by ’n plaaslike koffiewinkel saamgetrek.
Die familie het ook kommer uitgespreek oor die vordering van die polisieondersoek en het intussen private pogings van stapel gestuur om antwoorde te kry.
Verskeie ondersteuningsinisiatiewe, insluitend aanlyn fondsinsamelings, is geloods om te help met regskoste en verdere ondersoeke.
Saterdag se rit vorm deel van volgehoue pogings deur die gemeenskap om bewustheid te skep en aanspreeklikheid in die saak te eis.

