Vanderbij laerskole vier Wêreldboekedag
Leerders het weer die wonder van boeke ontdek toe Wêreldboekedag gevier is. Daar is gelees, gesels en op verbeeldinsvlugte gegaan.
VANDERBIJLPARK – Verskeie laerskole het die week Wêreldboekedag gevier, elkeen op hul eie manier.
By Laerskool Kollegepark is daar storieboeke in elke klas gelees. Die leerders kon hul verbeelding vrye teuels gee en wegraak in enige iets van humoristiese boeke tot avontuurverhale. ʼn Boek is nie net ʼn storie nie. Dis ʼn avontuur wat wag om beleef te word.

Laerskool Eligwa se leerders het almal boeke skool toe gebring om die skool se biblioteek aan te vul. Die skool het op Facebook gesê: “Elke bydrae maak ’n verskil en bring ons ’n stap nader aan ’n meer lewendige, opwindende leesruimte vir almal.
“’n Opregte dankie aan al ons leerders en ouers vir die skenking van boeke – oud én nuut. Julle ondersteuning en betrokkenheid word opreg waardeer, en julle maak lees werklik lewendig! Kom ons hou aan om ’n liefde vir lees te kweek!”

Die leerders van Laerskool Emfulenipark het nie net stories gelees nie, hul het ook boekmerke gemaak. Die leerders het dit baie geniet en besef dat elke bladsy wat omgeblaai word, ʼn nuwe avontuur is wat wag om te begin.

