News

Meestersatleet blink uit by SA-kampioenskappe

Sy hardloop nog vir goud op 69 en hou die jonger atlete steeds op hul tone.

VEREENIGING – Marietjie Ceronio, ’n 69-jarige meestersatleet van die Vaaldriehoek, bewys steeds dat passie en deursettingsvermoë nie met ouderdom verdwyn nie.

By die onlangse Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskappe wat van 30 April tot 2 Mei by die Herman Immelman-stadion in Germiston gehou is, het sy drie goue medaljes en een silwermedalje verower.

Sy het eerste geëindig in die 5 000m, 1 500m en 800m-items, en ’n tweede plek in die 400m.

Haar uitstekende tye in die langer afstande het haar boonop laat kwalifiseer vir SA Kleure.

Ceronio sê haar liefde vir atletiek het reeds op laerskool begin. “Ek het op laerskool aan naellope begin deelneem en so van die sport gehou dat ek nog nooit ophou hardloop het nie,” vertel sy.

Sy neem tans deel in die 65–69 ouderdomsgroep en sê sy sien uit na die volgende kategorie wanneer sy 70 word.

Vir haar is dit ’n besondere voorreg om steeds op nasionale vlak mee te ding. “Ek is baie dankbaar en geseënd om op my ouderdom nog atletiek te kan doen.

Dit herinner my aan die belangrikheid van deursettingsvermoë, dissipline en ’n positiewe ingesteldheid.”

Een van haar hoogtepunte by die kampioenskappe was haar deelname aan die 400m, ’n nuwe uitdaging as meestersatleet.

“Dit was die eerste keer dat ek die afstand gedoen het. Om uit my gemaksone te beweeg het my weer laat besef hoeveel vreugde atletiek my gee.”

Die 800m het ook ’n besonderse wedloop opgelewer.

“Die atleet in die tweede plek het my die hele tyd gejaag. Ek kon haar agter my voel, en dit het die adrenalien laat pomp. Dit maak die sport vir my spesiaal.”

Ten spyte van haar sukses, sê sy sy het nie haar persoonlike beste tye verbeter nie, maar die ervaring was steeds baie bevredigend.

Ceronio se pad terug na topvlak-atletiek was nie sonder uitdagings nie.

In 2010 is sy met perifere vaskulêre siekte gediagnoseer, wat haar loopbaan ernstig beïnvloed het.

 “Dit was fisies en emosioneel baie moeilik. Maar ek het nooit moed opgegee nie.”

Sy het in 2016 stadig begin terugkeer na die sport deur aan parkruns deel te neem en ding nou weer sterk mee op nasionale vlak.

“Wat my motiveer, is my liefde vir die sport. Dit hou my liggaam sterk en my gees positief. Dit gee my doelwitte en laat my lewendig voel.”

Vir haar is oefening eenvoudig deel van haar lewe. “Mens maak tyd daarvoor.”

Aan ander ouer atlete wat twyfel of hulle nog kan deelneem, het sy ’n eenvoudige boodskap: “Begin net. Moenie wag vir die perfekte tyd nie. Stel doelwitte, werk stap vir stap, en glo in jouself.”

Ceronio het reeds in 2023 Nasionale Kleure ontvang en die kwalifiserende standaarde weer behaal. Sy sal nie aan die Wêreldmeesterskampioenskappe in Daegu, Suid-Korea deelneem nie, maar beplan om volgende jaar aan die Afrikakampioenskappe deel te neem.

Marietjie Ceronio.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button