News

Plaaslike brouer maak skoonskip by bierfees

Henley se eie bierbrouer het naam gemaak by een van die land se grootste bierfeeste.

HENLEY-ON-KLIP – Skaars twee jaar nadat hy begin bier brou het, is Danie Jansen aangewys as Rookie Brewer of the Year 2026 by die Fools and Fans-bierfees.

Hierdie fees het op 10 en 11 April in Greyton in die Wes-Kaap plaasgevind.

Jansen, ’n lid van die Henley Hoppers Home Brewers, het die beoordelaars beïndruk met ’n Belgiese witbier wat volgens hom so na as moontlik aan die tradisionele Hoegaarden-styl gebly het.

Hy het egter die fermentasieproses aangepas deur die bier langer te laat ryp word om ekstra geurkarakter te ontwikkel.

“Dit was heeltemal onverwags,” het Jansen gesê oor sy oorwinning.

“Ek het net gehoop op ’n goeie plasing en het nie gedink ek sou wen nie.”

Die wenbier was die derde weergawe van dieselfde resep wat hy sedert September verlede jaar verfyn het.

Die Fools and Fans-fees, wat vanjaar sy 10de jaar gevier het, word beskou as een van Suid-Afrika se voorste landelike tuisbrou-byeenkomste.

Die geleentheid bring tuisbrouers en kommersiële brouerye bymekaar ter viering van bier, kos en musiek.

Die program sluit bierkompetisies, proe-sessies en lewendige musiek in en bied ook ’n platform vir opkomende brouers om hul werk ten toon te stel.

As deel van sy prys het Danie kaartjies na volgende jaar se BeerEx Africa in Kaapstad ontvang.

Dit is die grootste bier-ekspo en konferensie op die vasteland.

Die geleentheid bring internasionale en plaaslike brouers bymekaar vir tegniese sessies, proe-geleenthede en netwerkvorming (networking).

Danie het ook ’n beperkte uitgawe Ocean-Aged Tripel van Shackleton Brewing Company ontvang, ’n bier wat vir meer as vier jaar op sowat 40m onder die Atlantiese Oseaan verouder het.

Danie Jansen, meesterbrouer van Midvaal.

Vir Danie is die pryse egter meer as versamelaarsitems.

“Die BeerEx-kaartjies is ongelooflik omdat jy met mense in die industrie kan gesels en baie leer,” het hy gesê.

“En die bier self is iets wat ek waarskynlik nooit vir myself sou koop nie. Dis regtig spesiaal om so ’n bier te kan ontvang.”

 Jansen sê sy ontwikkeling as brouer sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van die Henley Hoppers nie.

“As dit nie vir die klub was nie, sou ek waarskynlik nog nie begin brou het nie. Daar is altyd iemand op die WhatsApp-groep wat help, maak nie saak hoe laat nie.”

Hy sê die grootste les wat hy tot dusver geleer het, is geduld.

“Aan die begin het ek te streng by tye en resepte gehou. Nou verstaan ek dat jy die bier tyd moet gee om te ontwikkel.”

Hoewel die erkenning hom trots maak, sê Danie hy sien homself nie as ’n kommersiële brouer in die toekoms nie.

“Tuisbrou gee jou vryheid om te eksperimenteer. As iets verkeerd gaan, is dit net ’n klein batch. Ek los die kommersiële brouery vir die groot manne.”

Naas sy stokperdjie werk Danie as nasionale tegniese bestuurder by Feinschmecker Deli Meats in Elsburg, Germiston, waar hy toesig hou oor die maatskappy se kwaliteits- en ontwikkelingsafdelings.

Die onderneming verskaf produkte aan verskeie groot kettingwinkels landwyd.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button