Local newsNewsSensitive Content

53 Operasies later. Die wond genees steeds nie

Foto in berig nie vir sensitiewe lesers nie. Christelle du Plessis sukkel al agt jaar met 'n wond op haar arm wat bly oopval. Lees meer...

MEYERTON – Agt jaar gelede het Christelle du Plessis haar hand gesny. Sy het skottelgoed by die werk gewas toe ‘n glas in haar hande gebars het. Aangesien dit ‘n besering by die werk was, het werkersvergoeding (workmen’s compensation) ingetree.

Sy is hospitaal toe geneem waar sy geopereer is. Ongelukkig het sy êrens ‘n bakteriese infeksie opgedoen en dit het na haar arm versprei. Operasie op operasie is gedoen, maar die wonde wou nie genees nie.

Christelle na een van vele operasies. Foto: verskaf/Christelle du Plessis

Die steke het bly uitskeur; die wond het al hoe groter geword en gebloei. Daar is eers gedink dis omdat sy ‘n diabeet is. Na twee jaar het die werkersvergoeding nie meer betaal nie.

Sy is van bakboord na stuurboord gestuur en het die een spesialis na die ander gesien. Uiteindelik is sy deur ‘n plastiese chirurg met ongeneeslike Vaskulêre EhlersDanlos Sindroom (VES) gediagnoseer.

Dis ‘n uiters seldsame genetiese siekte en Christelle het die gevaarlike variant, want haar hoofare bars maklik. Christelle bloei maklik, kry bloedklonte en wonde genees nie.

Teen die tyd wat die siekte gediagnoseer is, het Christelle reeds 53 operasies in agt jaar ondergaan. Haar arm is steeds nie reg nie.

Die wond aan Christelle se arm wat nie genees nie

Tans is die arm ‘n gapende wond wat tot op die been strek. Christelle weier om op ‘n hopie te gaan sit ten spyte van die chroniese pyn en ongemak. Sy werk steeds voltyds en is ma van twee seuns.

“Ons het ‘n goeie mediese fonds, maar hulle betaal nie alles nie. Ek moet maandeliks Alberton toe gaan om die spesialiste te sien en elke keer word daar bloedtoetse gedoen. Hulle moet my organe soos my hart, lewer en niere monitor omdat VES dit aantas,” vertel sy.

Christelle kry maklik infeksie en moet gereeld gaan vir bloedplaatjie en plasma oorplanting. Sy is permanent in pyn en erken party dae is moeiliker as ander.

Inligting oor Ehlers-Danlos Sindroom. Foto: verskaf/Christelle du Plessis

Sy bly egter positief. Haar oë skitter en sy glimlag maklik. Sy kla nie. Haar geloof is sterk, maar finansieel gaan dit moeilik.

“Ons betaal af waar ons kan. Ons skuld nog R16 000 vir die plastiese chirurg en die laboratorium rekening word elke maand meer,” sê sy. Enige donasies om te help met die mediese onkostes sal waardeer word.

Donasies kan inbetaal worD by: rekeningnaam: Christelle du Plessis bank: Capitec rekeningnommer: 1522438856 Verwysing: naam + medical expenses.

Christelle probeer mense bewus maak van EDS. Foto: verskaf/Christelle du Plessis
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button