Onwettige valstrikke vir roofvoëls
WAARSKUWING: Grafiese foto in berig. Publieke bewusmaking en waaksaamheid bly een van die sterkste wapens in die stryd teen wildmisdaad.
Dit is ‘n soort strik wat nie so bekend is soos gewone valstrikke wat deur wildstropers gebruik word nie, maar dit is wreed en onwettig en vind gereeld plaas.
Die strikke staan bekend as Bal-chatri-strikke en word deur wildstropers gebruik om roofvoëls te vang.
Terwyl die meeste valstrikke geassosieer word met kabel- of draadlisse wat vir soogdiere gestel word, word die Bal-chatri-strikke dikwels in oop gebiede, landerye, en areas waar roofvoëls jag gestel.
Die valstrikke is bedek met fyn nylon- of draadlisse wat ontwerp is om om die voël se pote vas te trek die oomblik as dit op die val land.
Sodra dit vasgekeer is, spartel die voël in paniek, wat dikwels ernstige beserings aan sy pote, kloue, en vlerke veroorsaak terwyl dit wanhopig probeer ontsnap, en soms vrek hulle.

Baie van hierdie voëls word gevang vir die onwettige wildlewehandel, onwettige aanhouding, uitbuiting of ander kriminele aktiwiteite.
“Net soos tradisionele strikke, verteenwoordig hierdie valle nie oorlewing nie; dit verteenwoordig gierigheid, wreedheid en die vernietiging van die natuurlewe,” sê BirdLife South Africa (Wildlife Crime Information Network).
“Roofvoëls is belangrike predatore in die ekosisteem. Hulle help om knaagdierbevolkings te beheer en handhaaf die natuurlike balans van die omgewing. Om hierdie voëls uit die natuur te verwyder, veroorsaak nie net lyding vir die dier self nie, maar beskadig ook brose ekosisteme,” verduidelik BirdLife SA.
Rapporteer
Indien mense op verdagte valstrikke, onwettige voëlaktiwiteite of mense afkom wat roofvoëls teiken, word hul gevra om dit dadelik te rapporteer.
Dit kan gerapporteer word as: Wildmisdaad via die HULPLYN: WhatsApp of skakel: 079 643 9556 of stuur ‘n e-pos na report@wcin.org.za (alle inligting wat verskaf word, sal as vertroulik hanteer word).
Probeer om die volgende inligting te voorsien:
Foto of video (indien moontlik)
Ligging van die valstrik (stuur ‘n ‘pin’)
Belangrik: Wanneer jy enige vermoedelike onwettige stropery sien, stel altyd jou persoonlike veiligheid eerste.
